JAGTERSTEGNIEKE met pyle en boë is geen vreemde verskynsel in Namibië nie. Net verlede maand het die land se San-bevolking internasionale en professionele boogskuts verstom tydens ’n internasionale boogskietkampioenskap in Namibië. Hulle jag al vir so lank as wat hulle kan onthou met pyle en boë.
Tog is boogjag met hedendaagse boë en op ’n professionele wyse eers in 1997 gewettig ná die soveelste versoek van trofeejagters. En anders as waaraan geweerjagters gewoond is, verg dié jagvorm die hoogste standaard jagvaardighede én etiese gedrag. “Boogjag is nie vir elke Jan Rap en sy maat nie. Jy kan nie net sommer die veld inloop en dink jy gaan daarmee wegkom as jy ’n bok met ’n pyl plattrek nie.”
Mnr. Diethelm Metzger, president van die Namibiese Vereniging van Beroepsjagters (Napha), sê boogjag het beperkings. “Die belangrikste is dat jy nie met ’n boog kan jag sonder dat jy deur ’n opgeleide professionele jagter begelei word nie.” Boogjag word ook net op geregistreerde boogjagplase toegelaat.
In Namibië is boogjag hoofsaaklik beperk tot trofeejagters en is dit ongehoord om vir biltong met ’n boog te jag. Tog is daar belangstelling in die sektor, ook plaaslik. “Ek spesialiseer nie regtig in boogjag nie, maar te oordeel aan jagplase wat spesifiek fokus op boogjag, kan ek sê dat dié sektor ook groei.”
Kleinwildspesies wat met boë gejag kan word is dassies, hase, ystervarke, wildekatte, rooikatte, rooijakkalse, Damara dik-dik, steenbokke, duikers, klipspringers, rooi basterwaterbokke en sekere voëlsoorte. Onder die mediumgrootte-wild word bobbejaan, vlakvark, blesbok, bontebok, impala, njalas en selfs jagluipers gereken.
Grootwild wat met ’n boog gejag kan word, is ’n gemsbok, koedoe, hartebees, bastergemsbok, swartwitpens, tsessebe, waterbok, wildebees, vlakte- en bergsebra, eland en tot so groot as ’n kameelperd. Volgens wetlike vereistes moet die boogenergie vir kleinwild 25 voet per pond wees, vir mediumgrootte- wild 40 voet per pond en grootwild 65 voet per pond.
In Namibië is boogjag ’n tegniese sport en vereis dit bogemiddelde selfdissipline en fiksheid. Die voordeel hiervan is dat omstaande wild baie min versteur word en soms nie daarvan bewus is dat ’n ander dier gejag is nie. Boogjagters in Namibië wag gewoonlik by punte wat gereeld deur diere besoek word of hulle kan agter hulle prooi aanloop.
Diere moet tussen 20 en 30 meter van die jagter weg wees én ontspanne wees. Jagters moet ook die beginsel van “regverdige agtervolging” toepas. Dit beteken dat ’n dier te alle tye in staat moet wees om van die jagter te ontsnap. Wild mag ook nie met ’n kunsmatige ligbron of van ’n voertuig af gejag word nie. Jagters moet ook op die ouderdom van die dier in die visier let.