9.03.2010 Projek wil MIV-lyers beter voed
 Mielies en ’n verskeidenheid groente word by die landbouprojek vir ’n vigsondersteuningsgroep op Oshakati gekweek.
’n LANDBOUPROJEK van ’n ondersteuningsgroep vir mense in die Oshakati-gemeenskap wat MIV onder lede het, is uiteindelik op dreef nadat die projek in sy beginstadium deur verlede jaar se oorstromings tot stilstand gedwing is.
Lede het vandeesweek die hoop op ’n verbeterde groentedieet uitgespreek en dat die surplus van hul produkte op die ope mark sal beland om die “Omwene Jesus Tuwilika Support Group” fi nansieel selfstandig te maak.
Die projek is verlede jaar van stapel gestuur nadat die Oshakati dorpsraad besluit het om ’n deel van erf nommer 857 in uitbreiding 2 aan ’n ondersteuningsgroep vir vigslyers te verhuur.
Die stuk grond is geleë tussen die polisiekantoor en ’n waterpan in die middel van Oshakati en strek van die hoofstraat tot teenaan die westelike verbypad.
“Ons is op dreef en soos jy kan sien, die toekoms lyk belowend. Ons sal binnekort groente en ander gewasse vir eie gebruik en vir die mark produseer,” het die koördineerder van die ondersteuningsgroep, mnr. Andreas Ngashikwao, gesê.
Die groep is deel van die Anglikaanse vigsprogram (AAP) en het sowat 30 lede wat vigspasiënte, hul ondersteuners en ander welwillendes insluit.
Hoewel die projek aan die gang is, het die ondersteuningsgroep steeds baie hulp nodig, insluitend ’n waterpomp en ’n diefwerende draadheining.
Volgens mnr. Ngashikwao is hul produkte tans aan diewe blootgestel. “Ons sal óf die grond heeltemal moet afkamp óf lede sal as vrywillige veiligheidswagte moet optree,” het hy gesê.
Mnr. Ngashikwao kan by sel. 081 337 7829 bereik word en die projekkonsultant, me. Helena Mwaetako, by sel. 081 216 8212.
|