9.02.2010 Ooreenkoms met Viëtnam, FAO gaan akwakultuur hier bevorder
DIE Kabinet het die implementering van ’n drieparty-ooreenkoms tussen Namibië, Viëtnam en die Verenigde Nasies se Voedsel en Landbou-organisasie (FAO) goedgekeur in ’n poging om armoede deur middel van akwakultuur-ontwikkeling uit te wis. Akwakultuur behels die teel van visse onder beheerde toestande vir kommersiële doeleindes.
Die ooreenkoms maak deel uit van die Suid-Suid-ooreenkoms wat ontwikkel is ter bevordering van Namibië se nasionale program vir voedselsekuriteit. Die samewerking met Viëtnam en die FAO is vir tegniese bystand in die ontwikkeling van Namibië se binnelandse akwakultuurprogram.
Namibië hoop om deur hierdie samewerking die produksie van vis in arm, landelike gebiede te verhoog en só seker te maak dat mense wat hier woon, kos het om te eet.
Voorts is die program daarop gemik om vroue, jongmense en wees- en ander kwesbare kinders in al 13 die streke by akwakultuur te betrek.
Die Regering het reeds die regsraamwerk, infrastruktuur en ander ondersteuningsmeganismes vir die bevordering van akwakultuur geskep.
’n Verbruikersbewusmakingsveldtog, “Eat more Namibian Fish for Life”, is ook van stapel gestuur.
In ’n poging om die uitdagings van die ambisieuse program die hoof te bied, het die Regering Viëtnam en die FAO versoek om twaalf kundiges in akwakultuur vir tussen drie en vyf jaar na Namibië te stuur.
Een van die kundiges sal in Windhoek geplaas word om die uitbreiding, beplanning en koördinering van die projek te bestuur, terwyl die twee operasionale en produksiekundiges verantwoordelik sal wees vir die strategiese toesighouding oor al die gebiede wat potensieel vir akwakultuur ontwikkel kan word.
Die ander nege kundiges sal tussen die 13 streke ingedeel word. Namibië hoop om deur middel van hierdie ooreenkoms sy tegniese en organisatoriese kapasiteit te verbeter, aan mense indiens-opleiding in akwakultuur te verskaf, voedselsekuriteit te verbeter, ’n bron van inkomste te skep vir mense in landelike gebiede en ’n kombinasieboerdery van akwakultuur, veeboerdery en akkerbou in kommunale gebiede te bevorder.
|