
Mnr. Ryno van der Merwe
DIE verslag oor die olifantprobleem in die noordweste van die land wys duidelik produsente se noodkreet dat dié probleem besig is om handuit te ruk en tot groot verlies vir boere ly.
Mnr. Ryno van der Merwe, president van die Namibiese Landbou-unie (NLU) het verlede week as verteenwoordiger van die Gesamentlike Presidensiële Komitee (JPC) van die verskillende landbou-unies besoek gebring aan gemeenskappe in die noordweste om terugvoer te gee oor die verslag wat pas voltooi is.
Die verslag is op versoek van die landbougemeenskap deur die Zimbabwiese omgewingskonsultant, mnr. Rowan Martin, opgestel.
Die titel is Options for the Management of the Elephant Population in the North West of Namibia. Lede van die kommunale bewaringsgebiede, kommunale produsente, ontluikende kommersiële produsente sowel as kommersiële produsente is genooi na hierdie vergadering wat op Kamanjab gehou is.
Martin het die ondersoek op versoek van die JPC gedoen met die hoofdoel om te kyk na verskillende opsies om die konflik tussen mense en olifante in die probleemgebied doeltreffend te bestuur.
Dit is in November voltooi en skets ’n duidelike prentjie van toenemende menslike populasiedruk, vermeerdering in veegetalle, asook ’n groeiende olifantbevolking in ’n woestyn- tot semiwoestyn omgewing.
Volgens mnr. Van der Merwe wys hierdie verslag die konflik tussen mense en olifante in die noordweste duidelik uit, asook die noodkreet dat konflik met olifante handuit ruk en die inkomste van produsente toenemend beïnvloed.
Die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het nie net kennis geneem van hierdie situasie nie, maar het ook die Regering se begrip en simpatie hiermee uitgespreek, sê hy.
Die verslag, wat binne die raamwerk van die Nasionale Beleid op Mens-Dier-Konflik opgestel is, se aanbevelings bestaan uit hoofsaaklik kort- en langtermynplanne.
Die korttermyn-aanbevelings sluit in die voorsiening van strategiese waterpunte wat die verspreiding van die olifantgroepe tot ’n mate kan beïnvloed, gebruik van afweermiddels soos brandrissie, beskerming van watergate en dies meer. Alternatiewe opsies sluit ook in die verskuiwing van hele troppe lewendige olifante, wat egter ’n baie duur transaksie en finansieel nie werklik moontlik is nie.
Aanpassing van bestuursmetodes soos byvoorbeeld mobiele kraalstelsels kan oorweeg word en is in ander lande soos Kenia geïmplementeer.
Terselfdertyd is so ’n bestuursmetode aanvullend tot die diversifisering van boerderypraktyke. Nog ’n moontlikheid is die grootskaalse oes van olifante waarvoor akkurate olifantgetalle krities belangrik is.
Namibië is egter deel van die CITES-ooreenkoms en dit bemoeilik die besluite van Regering om in die populasiegetalle van olifante in te gryp. So ’n opsie is dus nie in die afsienbare toekoms ’n realistiese verwagting nie, het mnr. Van der Merwe gesê.
Die langtermyn-doel is om die eienaarskap van olifante af te wentel na eienaars van beide kommunale asook kommersiële grond. Omdat olifante egter geweldige groot gebiede bewoon, sal medebestuur tussen die staat en die betrokke grondbewoners noodsaaklik wees om hierdie opsie doeltreffend uit te voer.
Vir verdere inligting, kan die NLU webtuiste besoek word by www.agrinamibia.com.na.