22.07.2008 Nuwe landbou-projek vir die Kavango
DIE sesde landbou-projek gaan binnekort teen ‘n koste van N$1,5 miljoen in die Kavango-streek gevestig word. Dit sal deel vorm van die Regering se Groenskema wat daarop gemik is om voedselsekuriteit vir Namibië te verseker. Mnr. John Mutorwa, Minister van Landbou, Water en Bosbou, het die gebied sowat 20 km wes van Rundu wat vir dié nuwe projek bekend as Sikondo geoormerk is, Vrydag besoek.
Die projek was veronderstel om in 2004 te begin nadat hoofman Alfons Kaundu van die Mbunza tradisionele owerheid 800 ha aan die Regering beskikbaar gestel het. Volgens mnr. Mutorwa is die aanvang van die projek egter vertraag deur ‘n omvattende lewensvatbaarheidstudie wat ‘n ondersoek na die gehalte van die grond in die gebied ingesluit het. Intussen het mnr. Mukoya Dagobert, sekretaris van die Mbunza tradisionele owerheid, aan Nampa gesê voordat daar met die projek begin kan word, moet 43 kleinboere in die omgewing eers verskuif word.
Hulle hutte en landerye is tans geleë in die gebied waar die Sikondo-projek gevestig moet word. Die geraakte kleinboere sal deur die Regering vergoed word, sê hy. Volgens mnr. Mutorwa sal die gebied vanjaar nog ontbos en die terrein voorberei word, waarna ‘n waterpompstasie opgerig sal word. Die ander vyf Groenskema-projekte in die Kavango-streek is by Shadikongoro, Shitemo, Mashare, Uvhungu Vungu en Musese.
|