9.03.2010 NLU, LPO vergader vandeesweek
DIE nuwe Wet op Grondhervorming en die doeltreffendheid van die naspeurbaarheidstelsel teen die agtergrond van die beesdiefstalsindikaat en sy bedrywighede, is vandeesweek in die georganiseerde landbou se soeklig.
Die Namibiese Landbou-unie (NLU) en die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) hou vandag en Donderdag hul eerste vergaderings vir die jaar.
Die ses strategiese doelwitte van die NLU wat tydens sy beplanningsessie in November 2009 hersien is, gaan die basis van die vergadering van die NLU vorm. Hoog op die agenda sal die strategiese doelwit ten opsigte van sekerheid oor grondbesit en grondgebruik wees.
Die raad sal ook ’n volledige bespreking oor die voorgestelde nuwe Wet op Grondhervorming voer. Die LPO sal op sy beurt weer baie aandag skenk aan die funksionaliteit van die naspeurbaarheid-meganismes wat vir die nasionale beeskudde geld. Dit sal geskied teen die agtergrond van die talle gevalle van veediefstal wat die afgelope tyd in die media gerapporteer is.
Die NLU se uitvoerende raad vergader onder die voorsitterskap van die president van die NLU, mnr. Ryno van der Merwe, en die LPO onder die voorsitterskap van mnr. Kay-Dieter Rumpf.
Die bestuur van die NLU gaan ook môreaand sy borge en dié van sy geaffilieerdes as blyk van waardering vir hul ondersteuning onthaal.
|