24.01.2012 NamLits-probleme eindelaas uitgestryk
DIE reuseprobleme wat einde verlede jaar met die opdatering van die NamLits-databasis ondervind is, is uit die weg geruim.
Volgens die direktoraat Veeartsenydienste is die databasis wat opgedateer moes word met die inwerkingtreding van die nuwe dubbele oorplaatjiestelsel, danksy bykomende hulp van die Vleisraad, die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou en Meatco teen middel Desember op datum gebring.
Meatco het vanweë probleme met die NamLits einde verlede jaar miljoene dollar verloor. Dit is op die spits gedryf deur die implementering van die Europese Unie (EU) se verpligte 40/90-dae verblyfvereistes vir slagvee op 1 November, wat aan die hand van NamLits gekontroleer moes word.
Die terugslag het Meatco boonop getref op die vooraand van die Kersseisoen met sy tradisioneel groter vraag na beesvleis en die gunstiger wisselkoers waarby uitvoerders en produsente kon baat.
Die deurset by Meatco was so laag dat die vleisverwerker sy fabriek in Windhoek vir die slag en verwerking van beeste moes sluit.
Volgens die Vleisraad bestaan nog hier en daar verskille tussen die praktyk en die databasis en daarom versoek hy produsente om self ook seker te maak dat beeste wat by EU-uitvoerabattoirs aangebied word, wel op die NamLits-databasis geregistreer is.
Navrae in dié verband kan aan die NamLits-kantoor by 061 227 036 gerig word. Andersins kan produsente vir me. Zandrie Nortje van die Vleisraad by 071 275 851 bel.
Volgens bepalings van die direktoraat Veeartsenydienste moet alle beeste wat ná 1 November 2011 by EU-goedgekeurde beesvleisuitvoerabattoirs geslag word, reeds vir 90 dae op die NamLits-databasis geregistreer wees.
|