7.09.2010 Namibiër betaal rekordprys vir Sussex-bul
 Die bul Platdrif Dunlop, is vir N$135 000 deur mnr. Adri Basson (middel) by mnr. Nollie Stofberg (tweede van links) van Worcester in die Kaapprovinsie gekoop. By hulle is me. Malani Stofberg, Johan van der Nest (afslaer) en Louis de Jager van BKBLouwid wat die veiling aangebied het.
Die Namibiese Sussex-boer, mnr. Adri Basson, het onlangs tydens die Nasionale Sussex-veiling in Bloemfontein ‘n nuwe rekordprys van N$135 000 vir ‘n Wes-Kaapse bul van die Platdrif Sussexstoet by Worcester betaal.
Die bul, Platdrif Dunlop, is deur mnr. Nollie Stofberg geteel en sal voortaan deel van mnr. Basson se Vendetta Ranch van Windhoek se Sussex-stoet uitmaak. Platdrif Sussex-stoet het die afgelope drie jaar die hoogste gemiddelde prys tydens die nasionale veilings vir sy bulle behaal.
Vanjaar was ‘n gemiddelde prys van N$68 000 behaal. Onder die vroulike diere het Platdrif Senorita 56ste ook die hoogste prys van N$25 000 behaal.
Die koper was Hennie Vermeulen van Maltahöhe. Mnr. Stofberg se vroulike diere het ook die hoogste gemiddelde prys van N$16 400 behaal.
Die algehele gemiddelde prys van die bulle wat op die veiling aangebied is, was N$35 900 terwyl die vroulike diere ‘n gemiddelde prys van N$12 650 behaal het.
|