Namib Roses by Dordabis

DIE suksesverhaal van Namibië se enigste blomplaas is groter as die produksie van derduisende snyrose, krisante, lisianthusse, tuberrose, saailinge en struike per jaar vir die plaaslike mark. Namib Roses naby Dordabis is ook een van die grootste werkverskaffers aan die arm plakkergemeenskap van Stinkwater en bied ’n uitkoms aan 54 mense wat andersins nie ’n werk en inkomste sou gehad het nie.

Mnr. Francois Durand (40) se reuseblombedryf by Klein-Marula aan die Schaaprivier het ontwikkel uit ’n liefhebbery wat sy ontstaan in die tagtigjare gehad het toe hy as ’n ingenieurs- en rekenaarwetenskap student aan die Universiteit van Stellenbosch naure op ’n roosplaas gewerk het om sakgeld te verdien.

Snyblomme is een van die landbouprodukte wat ’n mens moeilik met Namibië vereenselwig, want die klimaat van uiterste hitte en koue maak die produksie daarvan moeilik. Francois, wat op Gobabis grootgeword het, span egter gespesialiseerde tegnologie in om ’n kunsmatige klimaatsomgewing te skep wat optimaal is vir die produksie van snyblomme en die kweek van saailinge.
Die reusekweekhuise op Klein- Marula beslaan ’n oppervlak van 2,5 ha. In dié tonnels bedryf hy sy arbeidsintensiewe blom- en plantboerdery wat hom in staat stel om Maandae, Woensdae en Vrydae vars snyblomme vir landwye verspreiding in Windhoek af te lewer.

Hy het sowat twintig jaar gelede met sy bedryf op Brakwater, net buite Windhoek, begin – lekker naby sy mark, maar getrou aan die plek se naam was die water te brak. Daarby was die munisipaliteit nie gretig dat nog waterintensiewe bedrywe gevestig word nie. Hy vertel dat hy destyds by die Eerste Nasionale Ontwikkelingskorporasie (Enok) aansoek gedoen vir ’n lening om 7 000 roosbome te plant. Die lening is afgekeur “omdat hulle gemeen het ek is te optimisties”.

Vandag bestaan sy bedryf uit 70 000 roosbome en hy kan nie voorbly om in die vraag na snyrose te voorsien nie. Francois het sy boerdery later van Brakwater na Dordabis verskuif. Eers was hy vir drie jaar op ’n stukkie huurgrond op die plaas Stoltzenfeld van mnr. Sammie en me. Hendrien Rossouw. Nadat hy ’n vennootskap gestig het met ’n Spanjaard, mnr. Manolo Pascual, het hy na sy eie stukkie grond, Klein-Marula, langs die Schaaprivier net buite Dordabis getrek.
Vandag produseer hy snyrose, krisante, lisanthusse, tuberrose, herfsasters, blom- en groentesaailinge, kruie, struike en inheemse bome in potte. Die snyblomme sorg vir sowat 50 persent van die omset van die onderneming en die saailinge en struike saam vir die res. In die somer is rose die vernaamste snyblomme wanneer tienduisende stele per week geproduseer word. In die winter daal die produksie egter met tot 70 persent.

Dit is vanweë die koue en minder ligure per dag. Die rose word in plantsakke verbou en die krisante en ander snyblomme word regstreeks in die grond geplant. Francois koop die roosboompies aan by groot Suid-Afrikaanse kwekers soos die bekende Ludwig Taschner van Pretoria.

Namib Roses se snyrose, wat in 16 verskillende kleure kom, het eksotiese name soos Grand Gala, Gold Strike, Dolce Vita, Red Star, Eskomi, Pascali en Lambaba. Die helfte van die rose wat gelewer word, is rooi. Met Valentynsdag om die draai, is die Red Starroosbome juis onlangs gesnoei om optimale produksie in Februarie te verseker.
Vier roosplante word in ’n plantsak van 30 liter in ’n plantmengsel geplant wat uit die helfte boombas (den) en die helfte riviersand bestaan. Elke plant kry ’n drupper waardeur water en bemesting toegedien word. Die watertoediening word met ’n rekenaar beheer. Die vogtigheid, temperatuur en ligintensiteit word met sensors in die kweekhuise gemeet.

Die inligting word na die rekenaar gesein, wat bereken hoeveel water toegedien moet word. Water word vir 85 sekondes op ’n keer toegedien en die rekenaar bereken die hoeveelheid kere wat water per dag toegedien moet word om in die plante se behoefte te voorsien. Tot 30 toedienings is per dag moontlik en nagenoeg twee liter water per plant word per dag toegedien.

Dit is veral in die somer nodig wanneer dit baie warm en droog en die transpirasie van die plante hoog is. Elke tonnel het ’n sogenaamde nat muur wat dit afkoel tot ’n gunstige 28 tot 30 grade Celsius. Daarbenewens sorg dit dat die vogtigheid tussen 60 en 70 persent is. ’n Weeklikse spuitprogram word gevolg om peste en plae te bestry.
Die water wat onder uit die plantsakke loop, word elke ses weke ontleed en getoets en die gerekenariseerde bemestingsprogram word daarvolgens aangepas. Die roosplante kan tot ses jaar in die plantsakke groei voordat dit hervestig hoef te word. Voordat die krisante en herfsasters geplant word, word die grond sowat 200 mm diep bewerk en sowat ’n week lank laat lê om droog te word sodat die swamme kan vrek.

Ná ’n jaar word die krisante en asters uitgehaal en die grond ’n jaar lank laat rus terwyl saailinge in houers op die grond gepak word. Voor planttyd word ’n basiese bemesting toegedien wat volgens grondontledings bepaal word. Afgesien van fosfaat word die mengsel 5:1:5 plus ’n hele reeks mikroelemente normaalweg toegedien.

Tydens produksie word die grond elke ses weke ontleed om te bepaal hoeveel van watter bemesting deur die besproeiingstelsel toegedien moet word. ’n Net word dan oor die plantstroke uitgelê en steggies, wat in Suid-Afrika gesny word en wat hy self bewortel, word 125 mm uit mekaar geplant. Namate die plante groei, word die net gelig om te verhoed dat die plante omval.
Die plante groei sowat 12 weke voordat dit begin blom. In die somer word blomme elke dag gesny en in die winter al om die ander dag. Die blomme word in ’n koelkamer gehou, in houers verpak en al om die ander dag afgelewer. Francois sê in die verlede is omtrent al die blomme uit Suid- Afrika ingevoer. Hy het egter die voordeel dat hy sy blomme varser kan lewer en sy kopers weet watter gehalte hulle by hom kry.

Vir saailingproduksie word saad in saailaaie geplant. Dit word met mikrosproeiers nat gehou. As die plantjies sterk wortels ontwikkel het, word dit in bakkies of potte oorgeplant waarin dit verkoop word. Die koue winternagte is een van die groot beperkings. Ryp kom algemeen voor en die temperatuur kan tot -11 °C gedaal.

Diesel- en paraffienverwarmers word dan gebruik om die kweekhuise te verhit. Wanneer die tonnels in die winter te koud word, gaan ’n alarm af. Dieselfde gebeur in die somer wanneer die temperatuur te hoog styg. Namib Roses se kragrekening is sowat N$22 000 per maand. ’n Driefase-kragopwekker word dadelik aangeskakel sou NamPower ’n kragonderbreking ervaar.
Danksy sterk boorgate aan die Schaaprivier, kan Klein-Marula die sowat 150 kubieke meter water voorsien wat daagliks deur Namib Roses benodig word. Die kweekhuise wat hy gebruik, is in Israel ontwerp en word deur ’n Kaapstadse onderneming bemark. Dit kos tussen N$300 en N$350 per vierkante meter om op te rig.

Dit is toegerus met ’n nat muur en waaiers in die teenoorgestelde muur vir verkoeling en verwarmers vir die winternagte. In die mure is openinge met gordyne wat op- en afgerol kan word. Dit word, net soos die waaiers en verwarmers, met ’n rekenaar beheer. Sensors meet die windsterkte en -rigting en sein die inligting na die rekenaar wat dan die gordyne oop of toe maak.

Só help die wind om die temperatuur in die kweekhuise te beheer sonder dat skade deur stormwinde aangerig word. As ’n windstorm kom, word die gordyne betyds toegerol en die rekenaar skakel suigwaaiers aan wat die plastiek om die staal- en aluminiumraamwerk vassuig sodat die wind nie ’n vatplek daaraan kan kry nie.

Om die groeiwyse van die krisante te manipuleer, word die beskikbare lig met gordyne en elektriese ligte beheer. As die plante byvoorbeeld 14 uur per dag lig kry, groei hulle net en blom nie. Teen blomtyd word die plante 14 uur per dag in die donker gehou om blomvorming te bevorder. Dit word alles met die rekenaar beheer.

Kategorie: