7.02.2012 N$4 miljoen se subsidie vir oorplaatjies al betaal
DIE Vleisraad van Namibië het die subsidie-eise vir die nuwe dubbele oorplaatjies en die inhandiging van ongebruikte ou oorplaatjies verwerk en nagenoeg N$4 miljoen is aan boere suid van die rooilyn betaal.
Volgens dr. Susanne Thalwitzer, koördineerder van die FANMeatskema, is 7 261 eise ontvang, verwerk en geverifieer.
Die betaling van subsidies is moontlik gemaak deurdat die Regering ’n fonds gestig het om produsente in die land te help om aan die nuwe regulasies vir die identifisering van diere te voldoen. Die fonds word deur die Vleisraad geadministreer.
Thalwitzer sê die verwerking van eise is vertraag deur ’n agterstand einde verlede jaar in die registrasie van die nuwe dubbele oorplaatjies op die NamLits-databasis. Die agterstand is teen einde November verlede jaar gelukkig grootliks uitgewis. ’n Ander remskoen in die verwerkingsproses was dat ’n groot aantal eisers verkeerde bankbesonderhede aan die Vleisraad verskaf het.
In die geval van 550 000 stelle dubbele oorplaatjies is die betaling van subsidie goedgekeur nadat vasgestel is dat die nommers ooreenstem met die beeste wat op die NamLits-databasis geregistreer is, sê sy.
Wat gebruikte oorplaatjies betref, kon slegs die eise betaal word waar produsente deur middel van die registrasiekaart aangedui het dit is met nuwe oorplaatjies vervang. Produsente is ook net vir die gebruikte oorplaatjies vergoed wat hul eie veebrandkode bevat het.
Alle betalings is direk na produsente se bankrekenings gemaak, met die verwysing “Ear tag claims” en die eiser se veebrandkode. Thalwitzer sê altesaam 260 boere het eisvorms met foutiewe of onduidelike gegewens ingedien. Hulle kon nie deur personeel van die Vleisraad bereik word sodat die inligting nagegaan kon word nie.
Sodra hierdie boere die regte inligting verstrek, sal hul eise verwerk en betaal word, sê sy.
Boere wat navrae het of versoeke wil rig, kan mnr. Frans Uusiku van die Vleisraad se oorplaatjiekantoor by 061 27 5864 skakel of ’n faks na 061 23 8839 stuur. Die e-posadres is claims@nammic. com.na
|