31.08.2010 Meatco gee aan boere ‘n stem op radio
‘n TOTAAL van 48 halfuur programme sal oor die volgende 12 maande op die Nasionale Uitsaaikorporasie (NBC) aangebied word met die doel om opvoeding van kommunale boere te bevorder. Die programme is ‘n inisiatief van Meatco.
Die program, Farmer’s Voice, sal weekliks op NBC uitgesaai word in Oshiwambo, Setswana, Damara/ Nama en Otjiherero sodat dit toeganklik sal wees vir boere in afgelëe gebiede en sal hopelik help om die taalgrens te oorbrug. Sodoende het die meerderheid van die land se burgers toegang tot die inligting.
Die radioprogramme sal ook, volgens Meatco, ’n middel wees vir die bemagtiging van voorheen benadeelde boere wat nie die nodige inligting het vir ontwikkeling en volhoubaarheid van hul landbou-aktiwiteite nie. Hierdie belegging jaag Meatco sowat N$260 000 uit die sak.
Me. Uschi Ramakhutla, projekbestuurder van die Meatco-vereniging, sê doeltreffende kommunikasie met belanghebbendes is ’n prioriteit van die maatskappy. “Farmer’s Voice slaag in sy doel, nie net deur Meatco se boodskap uit te dra nie, maar ook om ’n platform te skep vir rolspelers om kommunale boere in te lig, bewustheid te skep en bo alles om hulle van die nodige kennis van landbousake te voorsien.”
Die eerste fase van die reeks programme is reeds in 2006 uitgesaai en het groot belangstelling by luisteraars gekry. Destyds was dit in drie tale aangebied. Dit word nou weer aangebied onder temas soos landbou nuushooftrekke, aktuele sake, opvoedkundige onderhoude met kenners, weeklikse vleispreise en landbougeleenthede.
|