10.03.2010 Mahangu-oes dalk beter as in 2009
 ’n Mahanguland by die Okaku-nedersetting buite Oshakati.
BESTAANSBOERE in die Noorde is in die algemeen tevrede met vanjaar se reënval en hulle is vol hoop dat die mahanguoes baie beter as die afgelope twee jaar sal wees.
Hoewel sommige mahangulande deur reënwater bedreig word as gevolg van onlangs neerslae, is die meeste aanplantings buite gevaar.
“Dit maak nie meer saak of ons nog baie reên of ’n droogte sal ervaar nie, vanjaar se oes sal baie beter wees,” het Meekulu gwaPau, ’n bestaansboer van Okaku buite Oshakati, gesê.
Die streek is tot dusver die gevreesde oorstromings van die afgelope twee jaar gespaar, maar bronne in die suide van Angola het die week gepraat van onophoudende reën en ’n groot massa water in die Cuvelai-stelsel wat binne ’n paar dae die noordelike streke van Namibië kan bereik.
“Verlede jaar se efundja is niks in vergelyking met die massa water wat reeds die naweek verby Ondjiva suidwaarts gevloei het nie,” het ’n Angolese sakevrou wat Maandag op Oshakati was, aan Republikein gesê.
|