21.5.2012
 Argiewe:

Jongste vleispryse


15 April '12

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.01.2012

Groot planne op Ministerie se 2012-agenda


Die Minister van Landbou, Water en Bosbou, mnr. John Mutorwa.
DIE besluit oor Meatco se eienaarskapmodel en die bedryfstruktuur waarbinne dit bestuur sal word, gaan hierdie kwartaal nog voor die Kabinet dien sodat ’n finale besluit geneem kan word, het Minister John Mutorwa van Landbou, Water en Bosbou gister gesê.

Mutorwa het aan rolspelers wat in Windhoek vergader het, sy Ministerie se uitdagings, prioriteite, vooruitsigte en projekte vir 2012 verduidelik.

Hy het gesê hy is moeg dat “dieselfde ou rympie” sedert onafhanklikwording herhaal word wanneer die noordelike kommunale gebiede (NCA) ter sprake is.

Wetenskaplike navorsing is volgens Mutorwa nodig sodat die sewe streke wat nie toegelaat word om vleis uit te voer nie, ook deel van die ekonomiese hoofstroom kan word en die inwoners “ekonomiese vryheid” kan bereik.

Artikel 95 van die Grondwet bepaal die Regering van die land is daarvoor verantwoordelik om na die welstand van die mense om te sien. “Welstand beteken goeie gesondheid, geluk en voorspoed,” het Mutorwa gesê.

Volgens die Minister word diegene wat noord van die rooilyn woon, van hierdie reg ontneem omdat hulle nie die geleentheid het om soos die res van die land handel te dryf nie.

Volgens kenners word in hierdie gebied met 1,2 miljoen beeste geboer. “Dit is nie regverdig dat hierdie mense na 21 jaar van onafhanklikheid nie deel van die uitvoermark kan wees nie.” Die Minister het gesê dié gebiede, met die uitsondering van twee streke, het jare laas enige uitbreking van bek-enklou- seer beleef.

Hy het 2012 as ’n belangrike evalueringstyd bestempel omdat dit die derde jaar sedert die 2009-verkiesing is.

“Dit is nou ’n goeie tyd om dit wat die afgelope twee jaar gedoen is, te evalueer en te sien of dit suksesvol afgehandel is. Vanjaar is ook die ideale tyd om die praktiese toepassing van die beplande projekte te finaliseer en te verskerp.”

Hy het alle werkers van die Ministerie en rolspelers in die verskillende sektore aangemoedig om hulle van die inhoud van die betrokke dokumente te vergewis. Hy het veral klem daarop gelê dat die beplanning en uitvoering van projekte binne ’n bepaalde tyd moet geskied.

Hy het spesifiek na die Groenskema, droëland-verbouing en die beleid vir die uitroeiing van oorgrens-dieresiektes in die NCA verwys.

Mutorwa het met groot frustrasie daarop gewys dat kritieke vakante poste in die Ministerie so gou moontlik gevul moet word.

“Wanneer ons die begroting van die Ministerie in die Parlement debatteer, moet ons dit met groot moeite motiveer en regverdig. Wanneer dit uiteindelik goedgekeur word, word soveel tyd in beslag geneem voordat iemand op die ou end aangestel word. Waarom? Ek kan dit nie verstaan nie.”

Die Minister het gesê hy verstaan dat sekere maatreëls bestaan wat deursigtigheid verseker, maar “ek kan nie aan Namibiërs verduidelik waarom kwessies sloer nie en waarom die toegekende geld nie vir die bepaalde doel aangewend word nie. Sover dit my betref, is dit krimineel.”

Sedert 2010 is ’n direkteur vir plaaslike watervoorsiening nog nie aangestel nie. “Ek kan nie glo dat vir byna drie jaar geen geskikte kandidaat om hierdie pos aansoek gedoen het nie,” het Mutorwa gesê.

Hy het ook gesê hy wil sien dat meer projekte vanjaar by Sesriem plaasvind. “Voor onafhanklikwording is heelwat produkte uit hierdie gebied gelewer.”

Projekte wat voortduur, is die uitbreiding en verdere ontwikkeling van die Groenskemabesproeiingsprojekte van die Kalimbeza nasionale rysprojek, Shadikongoro, Shitemo, Ndonga Linena, Uvungu-Vungu, Musese, Etunda, ORIP, Tandjeskopje asook die Nauteen Hardapdam. Bouwerk aan die silo’s by Omuthiya en Okongo sal ook voortduur. Die silo’s van Tsandi sal voltooi word en konstruksie by sommige Groenskema-projekte sal ’n aanvang neem.

’n Abattoir sal op Rundu en ander gebiede in die NCA gebou word. Vanjaar sal die konstruksie van ’n nasionale ontsoutingsaanleg ook begin. Mutorwa het daarop aangedring dat ’n skool vir veeartsenykunde by die Universiteit van Namibië (Unam) ingesluit word.

Die ontwikkeling van nuwe Groenskemaprojekte moet ook vanjaar in die Kongolakiesafdeling van Caprivi en ander plekke begin. Die uitbreiding en modernisering van die sonneblomprojek by Shadikongoro en op ander plekke moet ook plaasvind.

Die Minister het ook terugvoering oor die Kabinet se besluite oor sekere kwessies gegee en gemeld dat die implementering van die volgende noodsaaklik is: Die watersubsidiebeleid vir die armes, die waardetoevoegingsbeleid en -strategie en die vestiging en inwerkingstelling van die Namibiese Landbounavorsingsinstituut.

Hy het gesê hy wil so gou as moontlik terugvoering oor die vloedvoorkomingsaktiwiteite by Mariental hê. “Ons hoef nie te wag totdat ons weer ’n vloed op hande het voordat ons helderheid oor die stand van sake het nie.”

Volgens Mutorwa moet dit ’n jaar van groei, voorspoed en harde werk wees.