’n TWEEDE oorplaatjie vir beeste sal in die toekoms ’n vereiste wees in Namibië. Hoewel die direktoraat veeartsenydienste in die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou nog nie die finale datum van implementering bekend gemaak het nie, sal dit na verwagting in 2009 in werking tree. Dié kwessie was onlangs een van die belangrike sake op die agenda toe rolspelers die FanMeat-vergadering in Windhoek bygewoon het.
Die Farm Assured Namibian Meat Scheme (FanMeat) is ontwikkel met die doel om seker te maak dat Namibiese rooivleisprodusente se produk voldoen aan die hoë dieregesondheid- en ander kwaliteitstandaarde van die Europese Unie (EU). Die stelsel kombineer bestaande veeartseny-wetgewing met goeie bestuurspraktyke en rekordhouding op plase om naspeurbaarheid te waarborg.
Intussen is geen finale besluit gemaak oor of die tweede oorplaatjie ’n visuele plaatjie of ’n RFID-plaatjie (dus een wat met radiofrekwensie-identifikasie werk) gaan wees nie. ’n RFID-plaatjie sal sekere voordele vir Meatco inhou sover dit die verwerking van inligting by sy aanlegte betref, maar gaan duurder kos as die visuele oorplaatjie.
Naas die implementering van die tweede oorplaatjie, was die hersiening van die FanMeat-handleiding een van die ander punte wat tydens die vergadering bespreek is. Die huidige FanMeat-handleiding word hersien ten einde dit tot internasionale norme en standaarde aan te pas en dit beter verifieerbaar te maak. Geen finale besluite is geneem nie en die hersiening van die handleiding is dus steeds in die ontwerpfase.