
Mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Groep, meen dit gaan die ekonomie langer neem om van die resessie te herstel as wat aanvanklik gereken is.
GAAN die ekonomie verbruikers vanjaar weer laat klippe kou en watter geleenthede bied Afrika vir landbouerswat hul vlerke wil sprei?
Dít was die vrae waarop boere verlede week antwoorde gekry het tydens ’n vooruitskouingseminaar deur die Kaiserstraat Boerevereniging in Windhoek waar kenners oor die ekonomie en boerdery in Afrika gepraat het.
Mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Groep in Pretoria, se kykie in die ekonomiese kristalbal vir 2010 bevat egter nie net goeie nuus nie. Hy het daarop gewys dat die ekonomiese herstelpad ná die resessie nie sonder slaggate gaan wees nie.
Hy voorspel dat dit langer gaan duur vir die ekonomie om te herstel as wat aanvanklik gereken is, hoewel die ekonomie aanvanklik vir die volgende jaar of twee redelik vinnig sal groei.
Die rede hiervoor is die groot reddingspakkette wat regerings węreldwyd aan banke beskikbaar gestel het asook die groot kapitale besteding in Suid Afrika vir die 2010 Węreldbekersokkertoernooi.

Mnr. Riaan Laubscher (links) van die Kaiserstraat Boerevereniging by mnr. Oliver Horsthemke van First National Bank. FNB was saam met Sanlam die borge van die ekonomiese vooruitskouingsgeleentheid.
Volgens hom kan die Bruto Binnelandse Produk (BBP) in Suid-Afrika van -1,9 persent verlede jaar tot 2,8 persent vanjaar verbeter. Suid-Afrika maak wel 25 persent uit van die ekonomie op die Afrikavasteland, maar Afrika dra slegs 2 persent by tot die węreldekonomie.
Teen hierdie agtergrond is Suid-Afrika en Afrika totaal afhanklik van węreldmagte buite hul beheer.
Mnr. Roodt meen die stewige rand/ Namibiese dollar gaan nog vir ’n hele paar maande uitvoerders se inkomste negatief beďnvloed. Namibiese beesvleisprodusente word tans erg geraak deur die minder gunstige wisselkoers aangesien dit produsentepryse laer dwing.
Voorts meen mnr. Roodt rentekoerse is te laag en hy voorspel dat die Suid-Afrikaanse reserwebank sy uitleenkoers na die einde van die jaar met ten minste 1 persent sal verhoog.
Hy voorsien ook ’n styging in die internasionale olieprys en voorspel dat dit tot US$95 per vat gaan klim. Die pryse van goud en platinum gaan ook styg, voorspel hy, maar maan beleggers om vir eers nie op die kapitaalmarkte te belę nie.
Wat die aandelemark en eiendomme betref, is mnr. Roodt positief en sę nywerheidsaandele behoort veral goed te presteer. Voorts voorsien hy dat Suid-Afrika se fiskale tekort as ’n persentasie van die BBP van -1,2 na -7,8 gaan styg, terwyl die tekort op die lopende rekening van -4,00 persent na -5,00 persent gaan verswak.
Hy het in sy voorlegging vyf punte uitgelig wat onontbeerlik is vir ekonomiese groei in enige land. Hierdie vyf punte is ’n gevestigde demokrasie, respek vir private eiensdombesit, ’n vreeslose en onafhanklike media, ’n onafhanklike regbank en ’n onafhanklike sentrale bank.
Die uitdaging vir Namibië is om aan dié vereistes te voldoen ten einde ekonomiese groei te verseker.
Mnr. Waldimar Pelser, ’n joernalis, het gepraat oor die moontlikhede vir Suider-Afrikaanse boere om in landboukennis en boerderyvaardighede na ander Afrikalande “uit te voer”.
Hy sę buitelanders speel ’n toenemend groter rol in voedselproduksie op die vasteland.
AgriSA is tans besig om met verskeie regerings in Afrika te onderhandel vir die uitbreiding van Suid-Afrikaanse boerdery-aktiwiteite na hierdie lande. Dit sluit in die Kongo (Brazzaville) wat onlangs 10 miljoen hektaar vir Suid-Afrikaanse boere aangebied het, die Demokratiese Republiek van Kongo, Benin, Gaboen, Ghana, Angola en selfs Libië.
Mnr. Pelser sę ofskoon die groot winsmarges en groot oppervlaktes onbewerkte grond dié boerderygeleenthede aantreklik maak, kan politieke stabiliteit en ’n skielike verandering in politieke beheer ’n groot rol speel in die vestiging van boere in ander Afrikalande.