
Mnr. Matthias Dohmen en sy vrou Claudia
EERSKOMENDE Saterdag, tydens die jaarlikse Oesfees op Grootfontein, sal mnr. Matthias Dohmen as Oeskoning vir 2010 gekroon word. Mnr. Dohmen se skoonpa, mnr. Hans Bonsels, het in 1984 saam met mnr. Jan Engelbrecht en ander vennote die maatskappy Awabobib Boerdery gestig.
In 1985 het hulle 2 300 ha op verskeie plase vir die plant van mielies ontbos. Op 8 Mei 1988 het mnr. Dohmen en sy destydse vrou, Felictas saam met hul kinders van Duitsland af gekom en die plaas Einbaum betrek.
Vir vier jaar het hy saam met mnr. Engelbrecht mielies geplant. Ná die groot droogte van 1992 het die maatskappy ontbind en het mnr. Dohmen die eerste keer vir homself op Alfredshöhe. Daar het hy met 600 ha mielies begin geboer.
Twee jaar later het hy en mnr. Bonsel ‘n vennootskap gesluit en die plase Einbaum, Omaha en Alfredshöhe bewerk. Saam het hulle 1 000 ha mielies geplant. Ter wille van diversiteit is die lande van Alfredshöhe met Bloubuffelsgras geplant en is begin om veevoer te kweek en met beeste te boer.
Saam met sy tweede vrou, Claudia, het hy in 2000 Alfredshöhe toe getrek waar hy toe as Oeskoning vir daardie jaar aangewys is. Na mnr. Bonsels se sterfte in 2002 het mnr. Dohmen op sy eie voortgegaan.
Vandag plant hy steeds 400 ha mielies op Einbaum en Omaha terwyl hy op Alfredshöhe woon en daar met gras en beeste boer.
Mnr. Dohmen skryf sy sukses aan verskeie faktore toe – die verspreiding van sy inkomste tussen beeste, gras en mielies verminder die risiko en die druk op homself. Hy heg groot waarde aan die vallei se goeie grond en skryf die goeie oeste wat uit die vallei kom daaraan toe, asook aan die goeie en tydige reënval.
Hy gee ook eer aan die Regering wat die boere bystaan in droogtetye en beperkinge op invoer van mielies plaas tydens die leweringseisoen. Vooraf vasgestelde pryse gee ook aan die boere sekuriteit, volgens hom.
Beperkende faktore is die hael wat soms groot skade aanrig, droogtes of laat reën en swamme en siektes soos die diphlodea wat hierdie jaar groot skade onder die mielies aangerig het. Sy persoonlike sukses, vertel sy vrou trots, is waarskynlik toe te skryf aan sy stabiele persoonlikheid en werkmetodes.
Hy gryp nie elke nuwe neiging aan sonder om eers deeglik navorsing te doen nie. Tog hou hy tred met die nuwe neigings en strategie en pas voortdurend aan om beter oespraktyke te beoefen.
Sy verhouding met sy arbeiders is ook stabiel en meeste van sy werkers leef reeds baie jare saam met hom en sal waarskynlik saam met hom op pensioen gaan. Hulle vertrou mekaar en hou vergaderings om onduidelikhede uit die weg te ruim. Hy glo aan gesprekvoering as daar struikelblokke is.
Met hierdie karaktereienskappe, werkstrategie, kennis en die toepassing daarvan, kan dit nie anders as om rekordoeste te lewer nie en is mnr. Dohmen nie sommer per geluk as Oeskoning aangewys nie, maar ‘n waardige voorloper in die akkerboubedryf in die Noorde.