31.08.2010 Doen tydig aansoek vir slagbeurte
OM vir elke beesprodusent in die land gelyke toegang tot slagbeurte te gee, het Meatco ’n spesiale toekenningstelsel vir slagbeurte ingestel.
Die stelsel behels dat die produsent met Meatco ’n kontrak sluit om te sê hoeveel beeste hy in die komende jaar by een van die abattoir se slagplase (Windhoek, Okahandja of Oshakati) gaan laat slag.
Nadat die produsent sy voorgestelde termyn en die maande waarin hy verkies om te slag op die ooreenkoms ingevul het, word die inligting op rekenaar geplaas. Die inligting word dan verwerk en die slagbeurte word op grond van ’n merietepunt toegeken wat die produsent op grond van vorige verslagtings verwerf.
Die produsent moet op die vyftiende dag van die maand voor die maand waarin hy verkies om sy diere te lewer, die dag of dae waarop hy verkies om sy diere te lewer by die voorsieningskantoor van Meatco indien.
Die kwotakaart wat in die verlede gebruik is, bestaan nie meer nie en die produsent moet dus self die voorsieningskantoor kontak om sy voorkeur slagdatums te verstrek. Sou die produsent versuim of vergeet om met die kantoor in kontak te kom en die datums aan te dui, word die produsent se verslagtings volgens die inisiatief van die personeel in die voorsieningskantoor bepaal.
Indien die produsent nie die slagbeurt wat aan hom toegeken is, gaan benut nie, moet hy dit binne agt dae kanselleer om te verhoed dat hy tydens die toekenning van toekomstige slagbeurte beboet word.
Produsente wat nie deur middel van ’n leweringsooreenkoms om ’n slagbeurt aansoek gedoen het nie, of wat ’n bykomende slagkwota vir ’n spesifieke maand wil bekom, doen aansoek en sy naam sal op ’n waglys geplaas word.
Die sluitingsdatums hiervoor is ook voor die vyftiende dag van die maand voor die maand waarin hy verkies om sy diere te laat slag. Die rekenaar ken slagbeurte toe volgens kwotakaartnommers en die voorkeurabattoir van die produsent word in ag geneem.
Daarna word die toekenningsnommers volgens merietepunt toegeken totdat die kwota vir ’n spesifieke dag vol is. Sodra die dagkwota vol is, word produsente verder binne hul datumreeks en daarna op enige datum ingedeel op grond van die merietepunte wat hulle met vorige verslagtings ontvang het.
Dit gebeur tot alle kaartnommers vir ’n spesifieke maand aan spesifieke produsente toegeken is. Hierna word slagbeurte aan die produsente wie se name op die waglys was, toegeken en wel volgens slagdagvoorkeur en merietepunte.
Produsente op die waglys vul die dae wat nog nie op die kwota gevul was nie.
Die lyste met die toekenning van slagbeurte moet voor of op die 22ste van elke maand beskikbaar wees sodat dit aan die voorsieningskantore gegee kan word. Sodra die toekenningslyste beskikbaar is, word dit aan agente verstrek wat namens produsente bemark terwyl Meatco die slagdatums verstrek aan produsente wat direk by hulle bemark.
Slagdatums word by wyse van telefoon of e-pos aan produsente gegee. Elke voorsieningskantoor op Windhoek, Gobabis, Okahandja, Otjiwarongo, Grootfontein en Okakarara, is verantwoordelik vir die produsente wat direk uit hul areas bemark.
Vir meer inligting skakel die naaste voorsieningskantoor of skakel Meatco se hoofkantoor in Windhoek by 061 321 6400.
Die merietepuntstelsel
Meatco se merietepuntstelsel is in 1998 ingestel om die slagbeurte so regverdig moontlik aan produsente toe te ken gegrond op hul verslagtingsgeskiedenis by Meatco. Wanneer dit by die toekenning van slagbeurte kom, gee die merietepuntstelsel voorkeur aan produsente wat getrou gedurende die jaar beeste aan Meatco lewer.
Die merietepunte word aan die begin van elke kalenderjaar vir alle Meatco-produsente bereken. Die toegekende merietepunt bly onveranderd gedurende die jaar en is die bepalende faktor wanneer een produsent met ’n ander om ’n slagbeurt kompeteer.
Produsente wat vir die eerste keer by Meatco begin verslag se merietepunt is outomaties 84%. Die produsent se verslagtingsgeskiedenis van die afgelope drie jaar en die onderstaande vier belangrike onderafdelings word tydens die berekening in aanmerking geneem: Die ondertekening van die leweringsooreenkoms en die produsent se geskiedenis van lewering volgens die ooreenkoms.
Die akkuraatheid waarmee die kontrak nagekom is (90% van die gekontrakteerde beeste gelewer). Die billike kennisgewing van die kansellering van ’n slagbeurt (ten minste agt werkdae voor die slagdatum).
Die produsent se geskiedenis van eweredige verspreiding van slagbeurte gedurende die jaar. Met betrekking tot die eerste twee punte word die drie kontrakperiodes (Januarie tot April, Maart tot Augustus en September tot Desember) per kontrakperiode geëvalueer.
Die gemiddeld van die kontrakperiodes word gebruik om die produsent se merietepunt vir die komende jaar te bereken. In die verlede is die merietepunt volgens drie faktore bereken – die ondertekening en lewering volgens ooreenkoms (55%), die eweredige verspreiding van slagbeurte (15%) en die billike kennisgewing van kansellasie van ’n slagbeurt (30%).
|