
’n Inwoner van Nkurenkuru het met ’n baba op haar rug ook gehelp om onkruid by hoofman Sitentu Mpasi se landerye te verwyder.
EEN van die grootste werksverskaffers in die land, die Ohlthaver & List-maatskappyegroep, moedig mense aan om vir hulself kos te produseer wat tot voedselsekuriteit sal lei.
Die O&L-groep het Vrydag aan ’n seremonie deelgeneem waar onkruid in die mahangulanderye van die hoofman van die Ukwangali tradisionele owerheid, Sitentu Mpasi, by Nkurenkuru uitgekap is.
Die geleentheid het by die hoofmanshuis, Mayara, 130 km wes van Rundu, plaasgevind en was onder meer deur die Minister van Landbou, Water en Bosbou, mnr. John Mutorwa, die Minister van Binnelandse Sake en Immigrasie, me. Rosalia Nghidinwa, die Adjunkminister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, me. Petrina Haingura, twee permanente sekretarisse en streekraadslede bygewoon.

Mnr. Sven Thieme, die voorsitter van die O&L-groep en waarnemende besturende direkteur van Namibië Brouerye, en die Minister van Landbou, Water en Bosbou, mnr. John Mutorwa, op Nkurenkuru waar onkruid in hoofman Sitentu Mpasi se landerye uitgekap is.
Nghidinwa het ook ’n eg gebruik en die gemeenskap gehelp om van die onkruid ontslae te raak.
Mutorwa het gesê die praktyk om onkruid uit die hoofman se landerye te kap, is nie ’n nuwe een nie. Hy het gesê die doel van die praktyk is om verseker dat voedsel in tye van droogte en ander rampe beskikbaar is.
“Die gemeenskap kan dan by die hoofman kos kry,” het Mutorwa gesê.
“Ons moet onsself afvra wat is in die verlede gedoen voordat daar trekkers en kunsmis was. Mense het die werk self gedoen.”
Mutorwa het gesê die projek van die O&L-groep herinner mense daaraan om terug te gaan na dit wat in die verlede gewerk het en om nie op ander vir kos staat te maak nie. Hy het gesê: “As jy op iemand anders vir kos staatmaak, dan kan die persoon ook vir jou sê wat om te doen.” Mnr. Sven Thieme, die voorsitter van die O&L-groep en waarnemende besturende direkteur van Namibië Brouerye, het gesê vir die groep is die plaaslike produksie van goedere en dienste een van die belangrikste aspekte van ’n voortvarende land.
Hy het mense aangemoedig om vir hulself kos te produseer, wat weer sal help om voedselsekuriteit te verseker. Thieme het voorts gesê voedselsekuriteit sal ook onder meer moeder- en babasterftes laat afneem. Die O&L-groep het N$1 500 elk aan die Primêre Skool Kanuni en die Gekombineerde Skool Nkurenkuru geskenk asook N$2 000 aan die Kanuni kultuurgroep. Thieme het namens die groep ook 100 êe aan die hoofman oorhandig.

Die Ohlthaver & List-groep het Vrydag aan ’n seremonie deelgeneem waar onkruid uit die mahangulanderye van hoofman Sitentu Mpasi gekap is. Die geleentheid het by die hoofmanshuis Mayara, 130 km wes van Rundu, plaasgevind. V.l.n.r. verskyn mnr. Prince Shiimi van EPIA Beleggings, mnr. Sven Thieme, die voorsitter van die O&L-groep en waarnemende besturende direkteur van Namibië Brouerye, me. Rosalia Nghidinwa, die Minister van Binnelandse Sake en Immigrasie, en mnr. Tjeripo Hijarunguru van EPIA Beleggings.