DIE bul Sir Crespo van die Lared Brahman-stoet van Danie en Elsa Botes is vir N$170 000 aan Rudi Lemcke van Botswana verkoop.
Sir Crespo spog met top-prestasies soos die Windhoek Skou Breedplan Bul van die Jaar vir twee agtereenvolgende jare – in 2006 toe hy net 18 maande oud was – en in 2007; die prestige toekenning van Suider-Afrikaanse Breedplan Teelbul van die Jaar in 2007 in die Pick ’n Pay/Landbouweekblad/ Breedplan-kompetisie vir Suider-Afrikaanse stoettelers; en ’n eerste plek tydens die 2008 Internasionale Brahman- kampioenskap in Pretoria.
Lared Brahman-stoet was die enigste deelnemer uit Namibië. Verlede jaar was dit Sir Crespo se nageslag wat die skouprestasies ingeryg het. Twee van sy nasate, Lared Hennie en Lared Jenny, was albei kalfkampioene.
Mnr. Lemcke het ook ’n vier jaar oue koei met ’n topbulkalf van Sir Crespo en wat weer dragtig is van dié bul, vir N$35 000 uit die Lared Brahman-stoet gekoop.
Volgens die koper, wat al verskeie topbulle in Suider-Afrika gekoop het en met waarskynlik die beste Rooi Brahman-kudde in di e streek spog, is Sir Crespo enig in sy soort met ’n onverbeterlike nageslag.
Terselfdertyd het telers in Namibië ook verlede jaar top-stoetbulle by mnr. Botes gekoop, naamlik Lared Yster vir N$90 000, Lared Shiran vir N$45 000 en BOS991116.
Die kopers was mnre. Hagen Eggert, Dirkie Uys en Marco Seefeldt.
Met net ses jaar se intensiewe Brahman-teling agter die rug, hou mnr. Botes reeds vanjaar sy eerste produksieveiling. Dit vind op 19 Mei in Windhoek plaas.
Tydens dieselfde veiling sal topdiere van mnr. Stephan Voigts van Voigtland Simmentalers ook onder die hamer kom. Van Lared Brahmanstoet sal diere uit die nageslag van DT028, vaar van Sir Crespo en Bos991116, te koop wees.
Die veiling word aangebied word deur Agra en Simon Hughes Marketing van Suid Afrika.