7.09.2010
Beestelers kan genetika kus en keur

’n Boran-bul van mnr. Peter Mutschler wat tydens die Namibia Genetics veiling vir N$22 000 verkoop is.
DIE Namibia Genetics-veiling wat onlangs in Windhoek gehou is, is onder kommersiële en stoetbeesboere gevestig as ’n veiling waar goeie genetiese materiaal oor ’n spektrum van rasse heen gekry kan word. Die veiling waarvan die omset bykans N$2 miljoen was, word deur mnr. Kiep Lepen van Agra se stoetveedienste as uiters suksesvol beskou.
“Die verse het buitensporige hoë pryse behaal en almal is van die hand gesit. Daar bestaan ’n behoefte in die mark na kruisverse met goeie genetika en dit is weer by vanjaar se veiling bewys,” het hy by navraag gesê.
Die veiling is veral gewild onder beesprodusente aangesien 13 rasse op die veiling teenwoordig is wat aan die voornemende koper, veral kommersiële telers, ’n verskeidenheid gee om uit te kies.
“By die onlangse veiling het ons ook gesien dat die kleiner rasse baie goeie pryse behaal het,” het mnr. Lepen gesê.
Die rasse wat by die veiling verteenwoordig was (gemiddelde prys in hakies), is Angus (nie verkoop – bod te laag), Beefmaster (N$20 000), Bonsmara (N$22 500), Boran (N$21 000), Brahmaan (N$23 750), Brangus (N$20 000), Braunvieh (N$31 000), Charolais (N$32 500), Hereford (nie verkoop – bod te laag), Limousin (N$20 667), Simbra (N$29 750), Simmentaler (N$21 000) en Sussex (N$21 500).
Dit was vanjaar die eerste keer wat Angus-, Boran- en Sussex-bulle te koop aangebied is. Volgens die organiseerders van die veiling en die telers wat daaraan deelgeneem het, is die aanbod van die verskeidenheid diere baie belangrik aangesien elke ras ’n unieke bydrae veral tot kruisteling lewer.
Die Simbras wat die afgelope 25 jaar met rasse skrede vorentoe beweeg en een van die gewildste rasse in die land geword het, presteer beide in die skouring en op die veld. Telers van hierdie ras is ook regoor die land versprei wat op die gehardheid van die diere wys.
Die Angus, een van die kleiner rasse in die land, word deur mnr. Chris Purdon, voorsitter van die Angus-vereniging in Suid-Afrika, vergelyk met groot geeste soos Moses, Paulus, Shakespeare, Mozart en Churchill wat volgens hom almal hul foute gehad het, maar sou jy in hulle teenwoordigheid wees, is jy bewus van ’n gehalte wat blywend van aard is.
Die Angus is veral gewild in kommersiële kuddes vir speenkalfproduksie en hoewel die ras nie dieselfde gehardheid as van die ander rasse het nie, is dit uiters aanpasbaar wat dit een van die mees onderskatte rasse in die land maak. Hulle is ook poenskoppe, kalf maklik, het ’n hoë gehalte vleis en raak vroeg volwasse.
Die Brangus, wat ’n kruising tussen die Angus en Brahmaan is, het op sy beurt ’n baie groot genepoel aangesien die Angus die grootste vleisbeesras in die wêreld en die Brahmaan die grootste ras in die tropiese en subtropiese dele is.
“In kort sit jy met die beste van twee wêrelde – die gehardheid, goeie moedereienskappe en langlewendheid van die Brahmaan en die besonderse goeie vleiseienskappe van die Angus. Die Brangus is veral gesog vir vleissagtheid en voeromsettingsvermoë. Die ras se kalfies is klein by geboorte en omdat dit poenskoppe is, word die boer se winsgrens direk beïnvloed aangesien onthoringing veroorsaak dat kalwers 10 tot 20 kg ligter speen.”
Die Brahmaan-telers van Namibië het onlangs onderneem om die vleisgehalte van hul diere aansienlik te verbeter. Die ras is die grootste in Namibië en is veral geskik vir kruisteling aangesien dit uiters gehard is, min kalfprobleme het, goeie groeiers is en ’n hoë goeie voeromset het.
Die Brahmaan word suksesvol in kruisteling met enige ander ras gebruik. Op hul beurt is die Bonsmara-ras wat in Suid-Afrika onder ekstensiewe toestande geteel is, geteel om te presteer. Die ras het ontstaan uit ’n driehoekskruising-eksperiment wat prof. Jan Bons- ma met die geharde Afrikaner en die Europese Hereford- en Shorthorn- beeste gedoen het.
Die tipiese Bonsmara is funksioneel doeltreffend, goed aangepas en baie vrugbaar met koeie wat elke jaar ’n swaar kalf speen. Die ras lewer ’n hoë gehalte vleis, het ’n baie goeie temperament en is maklik hanteerbaar. Vroeër vanjaar is ’n Namibiese rekordprys, N$450 000, vir ’n Bonsmara-bul opgestel.
Die Braford is ’n kruisras tussen die Brahmaan en Hereford. Die ras se aanpassingsvermoë, vrugbaarheid, goeie temperament en die feit dat die gehalte en sagtheid van Braford-vleis herhaaldelik uitgewys is, maak dit die regte keuse.
Die Braford het die potensiaal om as ’n doeltreffende geldmaker ’n wesenlike bydrae tot beesvleisproduksie in Suider-Afrika te maak en het al bewys dat dit nie hoef terug te staan vir enige ander ras nie. Die ras se besondere voeromset is veral belangrik in tye van graantekorte of duur graan soos wat tans die geval is. Waar diere op die minimum voer afgerond moet word, hou dit vir enige produsent groot finansiële voordele in.
Die Charolais is plaaslik ’n gewilde ras vir kruisteling met veral die zebu-tipe bees soos die Brahmaan, Afrikaner en die Bonsmara. Die voordeel van kruisings met dié ras is dat die speenkalwers vinnig gewig optel, maar dat die voer nie in vet omsit nie en maer vleis geproduseer word wat verhoed dat die karkasse by abattoirs afgegradeer word.
Kruisings met die Charolais lewer swaarder karkasse by verslagting. Die Limousin is ook ’n goeie kruisteelras wat ’n goeie karkasgehalte oplewer. In Suid-Afrika verdien die ras se kalwers uitstekend by voerkrale.
Die Limousin is uiters gehard en aanpasbaar in alle tipe omgewings en lewer klein kalwers, het bykans geen geboorteprobleme nie en die kalwershet goeie groeivermoë. Volgens telers is die ras vir hulle meer ekonomies aangesien dit groter karkasse oplewer wat die regte gradering uitslag wat veral in die uitvoermark en onder kieskeurige verbruikers gewild is.
Die meer bekende Simmentaler-ras is ’n uiters gewilde dubbeldoel bees wat speenkalwers met baie goeie groeikrag lewer terwyl die koeie baie goeie melk- en moedereienskappe het. Dit beteken die kalwers kan vroeër gespeen en vinniger na voer oorgeskakel kan word. Die telers fokus veral hul teelpraktyke daarop om poenskoppe te teel.
Die Boran wat vanjaar vir die eerste keer op die Namibia Genetics- veiling te koop aangebied was, het sy ontstaan in die droë en semidroë dele van Afrika waar dit die afgelope 2 000 jaar bewys het dat dit uiters gehard is.
Die ras se primêre doel in Kenia waar dit vandaan kom, is vir melkproduksie. Dit is dus ’n uiters produktiewe ras wat gereeld kalwers, selfs in ongunstige toestande, oplewer. Die Boran is meer droogte- en siektebestand as groter raam beeste en het geen bykomende voeding nodig nie wat dit uiters geskik vir kruisteling maak.
Gehalte vleis word uit ru-weiding verkry. Die Sussex-ras wat vanjaar ook vir die eerste keer op die Namibia Genetics-veiling aangebied is, het ’n hoë libido en is uiters aangepas in alle dele van die land, maar vaar veral in die Khomas Hochland se klipperige omgewing baie goed.
“Hulle moet werk om by die water te kom en werk om weg van die water te kom,” het mnr. Danie Botha gesê wat hulle te koop aangebied het.
Die Sussex het ’n rustige geaardheid en ’n sterk erfdwang. Dit kruis ook veral goed met die Bos Indicus-rasse soos die Brahmaan en Afrikaner en lewer klein kalwers.