
Mnr. Louis Potgieter, voorsitter van die Grünau-boerevereniging. Dié foto is vroeër vanjaar geneem toe hy die eienaars van Brukkaros Meat Processors, mnr. Frans “Aupa” Indongo en dr. Kabols le Riche, genooi het om lede van die vereniging toe te spreek.
OFSKOON die briek aangedraai is op skaapboere se beplande boikot-aksie teen die uitvoerabattoirs, het die stof lank nie gaan lê nie. Daarvan getuig ’n elektroniese brief deur ‘n anti-boikotter wat op die oomblik onder leiersfigure in sowel die gelede van skaapprodusente as abattoirs sirkuleer. Die skrywer hiervan is mnr. Louis Potgieter, voorsitter van die Grünau-boerevereniging. Hy wil die brief so wyd as moontlik onder produsente in die skaapvleisbedryf sirkuleer.
Mnr. Potgieter is gekant teen die voorgenome boikot en meen produsente kan “strategies beter vaar” as hulle hul taktiek verander. Hy sê ook die proses is aan die gang om ’n afspraak vir hom gereël te kry met Pres. Hifikepunye Pohamba. Hy wil dié produsente wat nie die boikotters se sentimente deel nie, se saak gaan stel. In die brief sit mnr. Potgieter sy standpunt as volg uiteen:
• Plaaslike abattoirs het doodseker deel aan die skuld in die huidige twis, maar om juis nou te boikot in ’n periode waarin hul pryse beter is as ooit tevore, stuur die verkeerde boodskap uit. Is dit verder regverdig om alle abattoirs oor dieselfde kam te skeer?
• Ons loop ’n groot risiko om ons morele hoëgrond te verloor en om ons polities te isoleer met so ’n boikot-aksie.
• Ek is nie oortuig dat ons ’n simpatieke oor by die wetgewers van die land gaan vind met hierdie emosie belaaide agressie nie. Dit kan ons in die toekoms finansieël en polities duur te staan kom.
• Onderhandeling bly steeds die mees vrugbare wyse om geskille op te los. Om voor te gee dat produsente die enigste skietgoed het tydens hierdie beplande boikot-aksie is onwaar. Die uitkoms van hierdie boikot-aksie mag dalk minder aangenaam wees as die ander partye in die geskil begin tande wys.
• Die doelwitte van die boikot-aksie is vaag. Wat gaan ons regtig bereik? Waarheen lei hierdie pad? Wat gebeur daarna? Watter risiko’s is geïdentifiseer en is die gevolge daarvan bereken? Wat is die opvolgplan?
• Gesonde onderhandeling kan nie plaasvind deur ’n geweer teen iemand se kop te druk nie. Die ultimatums wat deur die boikot-aksie gestel word, grens aan afpersing.
• Die Regering van Namibië is die verantwoordelike party wat die wetgewing daarstel en waaroor die ongelukkigheid gaan. Deur die abattoirs en veilings te boikot word die verkeerde partye dus geteiken. Sinneloos!
• Dit is onredelik en wensdenkery om abattoirs eers bankrot te boikot en daarna goeie kompeterende pryse op volhoubare wyse te verwag.
• Dit is polities en moreel gevaarlik om die werksgeleenthede van talle abattoir-werknemers en veilingspersoneel in die gedrang te bring deur so ’n boikot-aksie te ondersteun. Mnr. Potgieter voer aan daar is ’n “beduidende hoeveelheid produsente” wat nié die beplande boikot steun nie.
Hy vra dan ook in sy e-pos dat boere wat hom saamstem, sal sorg dat hulle name op die lys van anti-boikotters kom sodat hulle nie oor dieselfde kam geskeer word as die boere wat beplan om op 31 Julie, wanneer die verlengde sperdatum vir ’n nuwe skaapbemarkingstelsel verstryk, hul plase se hekke gaan sluit nie. Mnr. Potgieter sê hy wil nie die boikot met sy tussentrede in die wiele ry nie. Hy wil net seker maak dat dié boere wat daarteen gekant is, se stem ook gehoor word.