
Mnr. Ryno van der Merwe.
AGRA, die koöperatiewe vlagskip van Namibië, se omset het in die finansiële jaarverslag geëindig op 31 Julie 2011 ondanks talle uitdagings soos die vertraging in die proses van maatskappywording, steeds met 17,7% tot N$1,8 miljard gegroei.
Die groep se bruto wins het met 17,5% gestyg vanaf N$145,8 miljoen in 2010 tot N$171,3 miljoen in 2011, terwyl die wins ná belasting vanaf N$13 miljoen in 2010 gestyg het tot N$24,5 miljoen in 2011.
Die groep se hoof uitvoerende beampte, mnr. Peter Kazmaier, het tydens die groep se jaarvergadering Vrydag in Windhoek gesê dit was ’n uitdagende jaar met talle take wat wag. Agra het nie net sy 30ste bestaansjaar gevier nie, maar boonop verskeie groot projekte onderneem. Dit sluit in die opgradering van die tak op Keetmanshoop teen ’n koste van N$5 miljoen, verbeterings aan verskeie ander takke in die land en die bou van ’n tak by Oshivelo.

Mnr. Peter Kazmaier.
Die klein- en groothandel afdeling het opnuut die grootste bydrae tot die omset en die groep se netto wins gelewer, danksy ’n beter vertoning in albei die sektore. Agra sê in ’n verklaring dit is ’n groot prestasie gesien in die lig van die toename in mededinging in die kleinhandelbedryf met talle buitelandse maatskappye wat tot die Namibiese mark toegetree het. Nietemin spog Agra met ’n kleinhandel omset van N$873 miljoen, wat 11,3% beter is as die vorige jaar se N$784 miljoen.
Wat die lewendehawe-afdeling betref, is groot vordering gemaak om markaandeel terug te wen, lui die verklaring verder. Die netto wins in hierdie afdeling het N$43,6 miljoen beloop, wat ’n verbetering van 32% vergeleke met 2010 se N$33,1 miljoen is.
Ná Windhoek Livestock Auctioneers se beëindiging van sy diens as veilingsagent in die sentrale gebied, staar Agra ’n nuwe uitdaging in die gesig en moes hy sy lewendehawe- afdeling herstruktureer om steeds in sy kliënte se behoeftes te kan voorsien.
Wat die finansiële prestasie van al die kleinhandeltakke (ingesluit Auas Vet Med en Safari Den) betref, het die netto wins met 15,7% gegroei. Daarbenewens het die eiendomsafdeling se bedryfswins vanaf N$9,2 miljoen in 2010 tot N$16,1 miljoen in 2011 gestyg.
Kazmaier wys daarop dat die vertraging in die deregistrasie van Agra as ’n koöperatief, ’n demper op sy groei gep laas het. “Dit bly een van die brandpunte wat die toekoms betref,” sê hy.
Ander kwessies wat voortaan ’n rol gaan speel, is die strawwe mededinging in die kleinhandel- en lewendehaw e-afdelings, sê hy. Hy verseker aandeelhouers egter dat Agra volgehoue bystand aan die landboubedryf ter wille van volhoubare groei en groter winste sal lewer.
Mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van Agra se direksie, wys in sy verslag op die belangrike rol van landbou in die uitdagings wat Namibië in die gesig staar. Volgens hom is dit daarom baie belangrik dat die Regering en die private sektor ’n gesamentlike visie het om dit aan te pak.
Agra is onlosmaaklik deel van landbou in Namibië en is ná 30 jaar steeds daartoe verbind om werk te skep en produkte en dienste te verskaf wat tot ekonomiese groei in die land bydra.
“Met goeie kennis, vaardighede, ondervinding en toewyding as grondslag, is Agra in ’n gunstige posisie om sy belangrike rol in die landboubedryf voort te sit,” het Van der Merwe gesê.
Mnr. Hannes Niewoudt van die toesighoudende komitee het op sy beurt sy teleurstelling uitgespreek oor die feit dat burokratiese rompslomp in die pad staan van Agra se poging om ’n openbare maatskappy te word.