|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang
Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
30.08.2010 Ware heldeWERKLIKE helde wil sonder uitsondering eintlik nooit helde wees nie en het dit wat hulle gedoen het nooit gedoen vir enige eerbetoon of beloning nie, maar bloot wat hulle in omstandighede as reg beskou het. Werklike helde is sonder uitsondering in hul eie oë nie helde nie en is selfs verleë weens eerbetoon.
’n Goeie onlangse voorbeeld is ’n oorlogsheld soos oorlede Danger Ashipala wat langs sy moeder begrawe wou wees, terwyl enige vriend en vyand hom in die Heldeakker te ruste sou lê. Vandag is Heldedag danksy binnekringonmin ’n groter politieke mynveld as ooit tevore en dit is nie verbasend dat die President, mnr. Hifikepunye Pohamba, eerder die geleentheid gebruik om die uitdagings van die toekoms en nasionale eenheid aan te spreek as die Swapo-sensitiewe kwessie van helde en heldinne nie. Die vraag is nie wie nog helde van die bevrydingstryd is wat langs die pad vereer moet word soos sommiges wat nou eers die eer kry wat hulle lankal verdien het en ander wat nou op ’n lys beland soos ’n nagedagte of ’n regstelling. Werklike helde plaas nie druk op die Regering en hul politieke meesters om vereer te word nie, maar is selde bewus van hul eie heldedade en het hul bydraes onvoorwaardelik gedoen. Daar is selfs helde wat beledig mag voel as hulle eendag vereer word en daar is helde wat tot onlangs met straat- en skoolname vereer is wat nou in verkiesings en leierskapstryde as vyande van die mense van Namibië geparadeer word. Ongelukkig tree van die helde nou op asof hulle nog nooit die leiers of party tevore ontmoet het terwyl hulle sedert onafhanklikwording deel van die kollektiewe besluitneming was nie. Ook voete van klei? Daar is strate en skole na hulle vernoem en nou mag hulle nie eers op die sypaadjies met voormalige kollegas en kamerade gesels nie. Daar moet remme op die groeiende kultuur van kultus en verheerliking geplaas word. Heldedag behoort Namibiërs en die jeug eerder te herinner aan die eienskappe wat Namibiërs nodig het om Namibië vry te hou en boonop na ’n hoër rat van ’n onafhanklike, ontwikkelde en groeiende demokratiese republiek van vrydenkers ter wille van nasionale belang te laat oorskakel. Namibiërs is geseënd om helde van die bevryding- en die grondwetlike stryd as rolmodelle te hê. Daar is helde van die bosoorlog soos die Gideon-bende wat teen ’n magtige vyand in loopgrawe stelling ingeneem het met geen hoop om te wen nie, maar bereid was om die hoogste offer te bring vir dit wat hulle geglo het geregtigheid en onafhanklikheid van oorheersing is. Dit was ’n stryd oor meer as ’n honderd jaar op verskeie fronte en op verskeie maniere. Daar was ook ander wat koersvas vasberade was om die juk van Suid-Afrikaanse oorheersing te verruil vir die tuig van selfbeskikking tydens die onafhanklikheids- en grondwetskrywende prosesse. Swapo se skote van 1966 onder aanvoering van dr. Sam Nujoma en die interne politieke skote vir staatkundige verandering onder aanvoering van mnr. Dirk Mudge, was ’n verskil in metode, maar die oogmerk was selfbeskikking vir die mense van Namibië. Dit was die merkwaardige ooreenkomste tussen verskillende Namibiërs met verskillende agtergronde en metodes wat tot ’n onderhandelde demokrasie en republiek van versoening onder leiding van ’n voorsittende grondwetskrywer en stigterspremier, dr. Hage Geingob, gelei het. Daar is nie ’n enkele Namibiër wat nie onherroeplik verander is en steeds daagliks verander sedert 1990 nie. Hoewel elke individu sy regte en beskouings het, het alle Namibiërs danksy helde van verskillende oortuigings, agtergronde en weens verskillende redes die merkwaardige ooreenkoms van aanhoudende verandering en ’n groeiende nasionale verdraagsaamheid vir aangeleenthede wat enkele jare gelede nog ondenkbaar was en in loopgrwae en raadsale besleg is. Namibië se helde is patriotte met deursettingsvermoë, vasberadenheid, mannemoed en verdraagsaamheid en ’n algemene gees van welwillendheid teenoor die land se grense en integriteit en was altyd ten koste van hulself. Dit is hulle monument en kompas waarmee Heldedag se koers verseker moet word. Die koers wat die naam Namibië werd is, is die heldedae wat in die toekoms beslag sal gee aan die wens en voorbeeld van sy grondwetlike vaders dat spontane patriotisme en vaderlandsliefde ter wille van nasionale belang altyd, en ongeag verskille, die vlam van vryheid sal dra. |