Wagters op die see se mure

Die Kusbewaringsweek waarmee vandag ook langs die see van die sentrale Namib begin word, is veel meer as net die navolging van neergelegde datums op ?n staanalmanakkie. Dit kom in ?n stadium waar die speelplek van die nasie deur nywerheidswoelinge en -wordinge bedreig word.

Juis die kusdorpe is die basisse van die ontluikende nywerhede in die verwante myngebiede van die woestyn, massiewe uitbreidings in die Walvisbaaise hawe en nou ook die stekelrige dispuut oor ?n fosfaatmynery op see en die bedreiging wat dit vir die ryke seelewe van die Benguela-stroomgebied inhou. In vele gevalle is dit strydpunte tussen ?n swygende meerderheid en ?n aanstormende minderheid in die jaagtog na die skatte van ?n eens ongeskonde aarde en see. Dit is ?n stryd tussen bewese bates soos toerisme en ?n toonaangewende visnywerheid en fortuinjagters na onbewese bronne.

Die Gideonsbende wat tot dusver platgeloop moes word, is die enkele bewaringsbewustes van die seegebiede self en die verwante binneland. Min is nog gehoor van die Namibiërs wat in hul duisende vir hul vakansies op die kusgebiede toesak en die eenderse horde wat uit buur- en oorsese lande hier van hul wêreldreise onderneem.

Dit is in belang van hierdie swygende meerderheid waarop die Kusbewaringsweek deur die bewaringsinstansie Nacoma gerig is. Juis die besoekers verdien ook ?n plek vir hul skouers in die bewaringskrum.

Kategorie: