|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
22.02.2012 Vrede vra offersDIE oproep om vergoeding van die oorlewende slagoffers van terreur deur die Namibiese menseregteorganisasie, NamRights, laat opnuut die kollig val op die prys wat aan ’n lewe en lyding gekoppel word. Nie slegs die slagoffers van die bankbom op Oshakati nie, maar ook Kheichanachab se krysgevangenes, en oorlewendes van die Oshikuku- en Oshitutumaslagting in 1982 en 1987 onderskeidelik is deur Nam- Rights as geregtig op vergoeding deur die Namibiese regering uitgesonder.
Baie mense het in die jare van die bevrydingstryd met hul lewens geboet. Dit is uiteraard die hoogste tol wat betaal is in die strewe om Namibië se onafhanklikwording te bewerkstellig. Baie mense is gewond, baie het ledemate verloor in landmynontploffings en plaasaanvalle het ook die lewens van onskuldige Namibiërs geëis. Waar trek ’n mens die streep oor wie geregtig is op vergoeding en wie nie? Staan diegene wat vir jare soos diere in die gate van Lubango aangehou is nie, voor in die ry wanneer dit by die regverdigheid van versoening kom nie? Met onafhanklikwording is ’n blanko amnestie aan alle partye verleen en daar is op ’n beleid van nasionale versoening ooreengekom. Die verlede was agter ons en die toekoms van ’n nuwe onafhanklike Namibië, waar almal gelyk is en saamgewerk word vir ’n blinker, beter toekoms vir almal, het gewink. Gaan ons nou terug en trek ’n streep deur hierdie edele voornemens wat Namibiërs aan mekaar gemaak het? Die Namibiese regering sukkel om by al die ontwikkelingsprioriteite wat die land in die gesig staar uit te kom en voldoende bronne te vind om hiervoor te betaal. Onderwys, die voorsiening van voldoende skole landwyd wat goed toegerus is om leerlinge die beste moontlike opvoeding te gee; klinieke en hospitale landwyd wat in die gesondheidsbehoeftes van die land moet voorsien; die skepping en instandhouding van ’n infrastruktuur wat die land se wiele aan die rol moet hou, is maar enkele van hierdie prioriteite. Laat die land liewer fokus op prioriteite as om in ’n debat oor vergoeding vas te val. |