|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
19.01.2012 Voorligting kan pad wys’n EFFENS beter prestasie in die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat op gewone vlak ná die 2011-eindeksamens is te verwelkom, maar steeds niks om oor opgewonde te raak nie. Boonop is die feit dat nagenoeg 1 000 skoolverlaters minder as in die vorige jaar kwalifiseer vir universiteitstoelating, ’n aanduiding van agtergang eerder as ’n verbetering in die uitslae. Dit is ook uiters kommerwekkend dat 17 persent van leerlinge wat deeltyds gestudeer het, nie geslaag het nie. Dit laat die vraag ontstaan oor die gehalte van onderrig wat hierdie leerlinge ontvang.
Een van die opmerkings van die Adjunkminister van Onderwys, dr. David Namwandi, wat stof tot nadenke bied, is dat ’n akademiese studierigting nie almal beskore is nie en dat die ekonomiese groei van Namibië ewe veel afhang van mense wat goed opgelei is in ambagte en oor tegniese vaardighede beskik. Vir te lank is die waarde van ’n universiteitsgraad oorskat en die waarde van ’n goed opgeleide arbeidsmag onderskat. Te dikwels verwerf studente breë, algemene grade waarmee hulle nie toegerus is om die arbeidsmark te betree nie. ’n BA-graad is ’n wonderlike fondament van waar verder ontwikkel en gespesialiseer kan word, maar met slegs ’n BA-graad is die graduatus nie gekwalifiseer vir enige beroep nie. In Suid-Afrika het ’n persoon gesterf toe voornemende studente wat toelating tot die Universiteit van Johannesburg wou kry, in ’n stormloop beland het. Swak beroepsvoorligting en voornemende studente wat nie eens besef dat hulle nie vir studie in sekere vakgebiede kwalifiseer nie, is as redes vir die stormloop aangevoer. As ontwikkelende land het Namibië ’n groot behoefte aan sowel opgeleide professionele lui as mense wat ambagte beoefen. In die ontwikkelde wêreld word ambagsmanne en -vroue van ewe veel waarde as professionele mense soos dokters, ingenieurs en regsgeleerdes geag. Die salarisse wat hulle verdien, is dikwels mededingend met dié van mense in professionele beroepe. Dit is hoog tyd dat die status wat akademiese kwalifikasies geniet, heroorweeg word en werklik gefokus word op wat Namibië nodig het om Visie 2030 ’n werklikheid te maak. |