|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
6.09.2010 VakbondleiersVAKBONDE speel ’n belangrike rol in die beskerming van werkers se regte, of altans dit behoort die geval te wees. In die derde hoofstuk van die Namibiese Grondwet, wat spesifiek oor die verskanste fundamentele menseregte en vryhede handel, word die reg “op vryheid van assosiasie, wat die vryheid insluit om verenigings of vakbonde te stig of daarby aan te sluit, met inbegrip van vakunies en politieke partye;” in artikel 21(1) (e) gewaarborg.
Artikel 21 (1) (f) gaan verder en gee aan alle mense die reg “om hul arbeid te weerhou sonder om blootgestel te wees aan kriminele strawwe”. Die uitgangspunt is dat werkers vrywillig by vakbonde aansluit en lidmaatskapgeld betaal in ruil vir die beskerming wat die organisasies dan kollektief aan werkers bied in gevalle waar ’n dispuut met werkgewers ontstaan. In gevalle van onderhandelinge vir salarisverhogings, tree die verkose leiers van die vakbond namens die werkers op om die beste moontlike posisie vir hul lede te beding. In Namibië is vakbonde egter veel meer. Die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) is ’n vennoot van die regerende Swapo-party. Dit op sigself behoort die rooi ligte te laat flikker, want politieke affiliasie maak onpartydigheid moeilik. Sedert onafhanklikwording is reeds bewys dat vakbondleiers die posisies wat hulle in vakbonde beklee, as wegspringblokke vir politieke loopbane gebruik. Die naamlyste van lede van die Nasionale Vergadering die afgelope 20 jaar is ’n sprekende voorbeeld van hoeveel vakbondleiers hulle uiteindelik in die land se hoogste wetgewende liggaam gaan tuismaak het. Die nuwe Adjunkminister van Arbeid en Maatskaplike Welsyn, mnr. Alpheus Muheua, is die nuutste van ’n rits voormalige vakbondleiers wat tot in die Nasionale Vergadering gevorder het. In hoe ’n mate vakbonde die werklike verteenwoordigers van die werkers is en op ’n verantwoordelike wyse na werkers se regte en belange omsien, eerder as om as politieke aanvallers teen vermeende partyfaksies en opposisiepartye aangewend te word, bly ’n ope vraag. Is daar enigsins ’n skeidslyn tussen die party en die vakbondunie of het dit met die jare so verflou dat werkers en hul belange bloot ’n voorwendsel vir die voortbestaan van die vakbonde geword het? Dit word vertrou dat toe die afgevaardigdes van die verskillende vakbonde die naweek vergader het om onder andere die nuwe leiers van die NUNW te verkies om hulle die volgende vyf jaar te lei, hulle versigtig gedink het oor wie om te kies. Die populiste wat die grootste geraas maak, is nie noodwendig die beste leiers wat die vakbondwese moet uitbou en versterk nie, wat die belange en regte van werkers as eerste prioriteit beskou en ’n geloofwaardige stem vir die massas kan wees nie. Dit is tyd vir koelkoppe wat nugter besluite kan neem. |