Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kollig 4 September

Motor 29 Augustus

Ongwediva handelskou


Erongo 20 Augustus

Noorderlig 20 Augustus

Ons Argiewe

28.07.08

Vrou staan op uit doodsbed

08.08.08

Presidentseun in boeie

22.07.08

Bloed spat by rugby

30.07.08

Aanval ruk Grootfontein

15.08.08

'n Rokkie wou sy dra, maar o wee...

10.07.2008

Tronk-universiteit

‘n BEDROGSKEMA wat per selfoon uit die selle van die Windhoek sentrale gevangenis in Windhoek van stapel gestuur is, kon as voorbeeld van vindingrykheid gedien het as dit nie terselfdertyd so ‘n ernstige aanklag is en bevestiging van slepende wanbestuur op die hoogste vlakke ontbloot nie. Die jongste onthulling oor die misdadigheid agter tralies is net nog ‘n blady in die groeiende dossier teen die misdaadkultuur wat onbeheersd binne die gevangenisdiens groei. Laat dit dadelik gesê word.

Die nuutaangestelde Minister van Veiligheid, dr. Nickey Iyambo, onder wie die Gevangenisdiens ook ressorteer, is van alle blaam onthef en niemand verwag van hom wonderwerke met dié probleem wat hy weens slepende pligsversuim deur kollegas geërf het nie. Inteendeel. Dr. Iyambo verteenwoordig eerder die laaste hoop dat daar nog salf aan die agteruitgang gesmeer kan word.

Die selfoonbedrog agter tralies verteenwoordig egter ‘n veel groter verskrikking en nie een waarvan die owerhede onbewus is of was nie. Enkele dae gelede het dr. Iyambo die probleem van kommunikasie by wyse van selfone uit die tronke onder die Nasionale Vergadering se aandag gebring en al waarmee die politieke leierskap vorendag kon opkom, was ‘n onderlinge debat oor die toelaatbaarheid en wenslikheid van kondome in die tronk of nie.

Dit was oënskynlik nie ‘n bron van kommer dat misdaadsindikate van agter die veiligheid van tronkmure met hul loopbane onder ‘n soort van immuniteit weens nasionale onkunde kon voortgaan nie. Dieselfde kriminele wat tronk toe gestuur is om die gemeenskap teen hulle en hul optrede te beskerm, is per telefoon ewe goed toegerus om misdaad te pleeg as toe hulle buite die tronk was.

Die feite is dat die normale Namibiër sonder uitsondering die slagoffer van misdaad uit die tronk sal wees, bloot omdat misdaad nie vanuit die tronk verwag word nie. Want Namibiërs aanvaar dat misdadigers juis tronk toe gestuur is en daarom, behalwe vir besoeke, nie kontak met die buitewêreld kan hê nie.

As bedrog per telefoon uit die tronk gepleeg kan word, kan moord, roof, plaasmoorde en dwelmsmokkelary ook per telefoon deur georganiseerde misdaad deur hul netwerke – ook oudkriminele buite die tronk – beplan en uitgevoer word. In die verband is die tronk niks anders as ‘n misdaaduniversiteit ter voorbereiding vir hoër kriminele hoogtepunte nie.

Ook onlangs was daar ‘n hofsaak oor gevegte in die tronk tussen lede van die berugte 26 en 28 tronkbendes wat in baie gevalle ook korrupte bewaarders en offisiere op hul betaalstaat het. Dit is algemene kennis in die tronk se gange dat die veroordeelde reeksmoordenaar, Hans Husselmann, tydens sy gevangenisstraf voorkeurbehandeling gehad het omdat van die gevangenisdienslede hom gevrees het, eerder as wat hy ‘n modelgevangene of manipuleerder was.

Wat die jongste voorval aan Namibiërs sê, is dat hulle bekommerd moet wees, baie bekommerd, oor hoe diep georganiseerde misdaad se wortels in die staatshuishouding ingeslaan is. Wat dit ook sê, is dat interne krisisse en onderlinge wantroue onder die Regering se leierskap hulle so verlam het dat hulle in staat is om die opsigtelike ook te ignoreer.

Daar kan nie ‘n ander redelike verskoning vir die slepende wanbestuur op alle vlakke wees, behalwe dat dit nie hanteer kan word nie weens moontlike persoonlike reperkussies. Dit is tragies, maar ‘n ontstellende moontlikheid. Ewe ontstellend as dat die volgende oproep op enigeen se sel uit die tronk kan kom?