|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
7.02.2012 Swapo vrees optredeDIE omstrede Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, mnr. Kazenambo Kazenambo, is reeds berug vir sy tirades en uitbarstings. Hierdie uitbarstings en persoonlike aanvalle verhoog telkens in intensiteit en hy gaan elke keer verder in sy persoonlike aanvalle en rassistiese en stamgebonde opmerkings. Dit is duidelik dat die Minister alle selfbeheersing verloor wanneer hy homself enigsins in ’n situasie van konfrontasie bevind. Die probleem slaan egter dieper.
Dit is ook duidelik dat die Swapo-party beheer oor die optrede van sy lede verloor het en die President, Eerste Minister en die Regering eweneens nie beheer oor die optrede van ’n Kabinetsminister het nie. In die verlede toe Kazenambo skreeuend agter die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, aangehardloop het buite die Parlementsgebou en sy gevrees het dat hy haar fisies te lyf sou gaan, was die Swapo-leiers stil. Toe hy verlede jaar die redakteur van die Namibian Sun op ’n nuuskonferensie mondeling aangeval en beledig het, wou niemand in Swapo-geledere en nog minder uit regeringsgeledere ’n woord van kritiek rep. Die agbare Minister en inderdaad gewone Namibiërs is gevolglik onder die indruk dat die Regering en die Swapo-party hierdie soort optrede as gevolg van hul stilswye kondoneer. Selfs die Eerste Minister het by die laaste twee geleenthede met die verskoning vorendag gekom dat hy óf nie die videomateriaal gesien het nie óf nie die artikel in die nuustydskrif gelees het nie en gevolglik nie kommentaar kon lewer nie. Swapo se sekretaris-generaal, me. Pendukeni Iivula-Ithana, wou doodeenvoudig nie eens kommentaar lewer nie. Hierdie soort volstruispolitiek, wat sowel regeringsleiers as Swapo-leiers toepas wanneer dinge ongemaklik raak, is ’n ou laai en dui op niks goeds vir die beskerming van die demokratiese regte van die individu nie. Dit gaan ook nie help om agter die grondwetlike klousule van vryheid van uiting weg te kruip nie, want met daardie vryheid gaan ’n verantwoordelikheid gepaard wat uiteraard nie binne Kazenambo se verwysingsraamwerk bestaan nie. Gesien in die lig van sy rekord van weerbarstigheid het die tyd aangebreek om hom tot orde te roep. |