|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
4.03.2010 Swapo uit twee mondeNAMIBIËRS kan nie weet waar hulle met Swapo staan as die party se gekruiste lyne oor nasionale eenheid, nasionale versoening en nasiebou knak weens verskillende sienings deur die onderskeie leiers en frontorganisasies nie.
Oor die kwessie van Namibië se Staatshoof, mnr. Hifikepunye Pohamba, wat pas oorweldigend in sy amp herkies is, moet daar vir ’n slag reguit gepraat word. Mnr. Pohamba is nog nie in sy amp bevestig en opnuut ingehuldig nie en die debat onder Swapo-leiers en verteenwoordigers oor sy opvolger dreig om in ’n etniese web verstrengel te raak. In die verband is dit byna onsinnig om die party se stormtroepe van persoonlike en faksiebelang daaraan te herinner dat mnr. Pohamba ten spyte van sekere bestuurstekorte die afgelope vyf jaar in nasionale verkiesings oor etniese en politieke grense heen as Staatshoof herkies is. Die ganse Namibië het om ’n goeie rede die mandaat van mnr. Pohamba verleng en een van die belangrikste redes is waarskynlik dat mnr. Pohamba as Swapo se president ook presidensieel oor Namibië is en iets ordentliks en ’n bepaalde kalmte verteenwoordig wat inwoners van alle vlakke van die staatshuishouding bewonder of in die vooruitsig stel. As mnr. Pohamba toevallig van die grootste etniese groep in Namibië, die Oukwanyama’s, die etniese kaart gespeel het oor sy herkoms, sou daar waarskynlik begrip vir die redes vir die debat gewees het. Mnr. Pohamba het dit nie gedoen nie en op Swapobyeenkomste en die verkiesingsveldtog sy hart en siel agter sy party ingegooi, maar nasionale kwessies en Namibië met staatmanskap hanteer. Dit kan nie ontken word nie dat Namibiërs, ondersteuners van Swapo en die gewone man op straat, veel sterker optrede van mnr. Pohamba oor wanadministrasie, korrupsie en die vestiging van ’n sterk dissipline verwag het. Moontlik was die verwagtinge onredelik, maar inwoners kan daarvoor vergewe word, aangesien mnr. Pohamba self met sy inhuldiging na hy mnr. Nujoma opgevolg het, die bestryding van wanadministrasie ’n prioriteit verklaar het en inwoners dramatiese verwagtinge gehad het. In die algemeen egter het mnr. Pohamba nie nodig gehad om ten koste van enige ander mens of leier sy Swapo-stamboek te bewys en deur die mate waarin hy ander verkleineer, verdag maak of ignoreer nie. Die partypolitiek wat hy moes maak, was wat van ’n leier verwag is wat deur partye uit eie geledere uitgedaag word en dit is nie onredelik om te verwag dat politieke leiers politiek moet maak nie. Dit is daarom arrogant en visieloos van leiers wat deur mnr. Pohamba aangestel is om oor sy opvolger sekere etniese voorwaardes te stel wanneer ’n President van Namibië deur Namibiërs gekies is. Swapo se voorpraters moet nou vir die inwoners sê wat hulle moet glo. Moet hulle die pogings van die Jeugliga van die party glo wat die party so verteenwoordigend as moontlik van Namibië se verskillende groepe en belange wil kry en inwoners betrokke wil kry ongeag hul afkoms of sosiale of ekonomiese status of moet hulle die vakbonde glo wat sê dat Namibië net sonder witmense as verenig beskou kan word. Die vakbondleier en ongeleide politieke missiel van persoonlike belang, Evilastus Kaaronda, wat óf die Duitsers óf die regters, maar verkieslik alle witmense as sy vyande beskou waarop hy sy frustrasies kan uithaal. Kaaronda het reeds die onderskeiding dat hy deur sy eie partygenote beskuldig is van stambestendigheid en selektiewe kritiek wat die skuldiges van sy eie groep uitsluit. Dit is nie verbasend dat die president van die NUNW en pas verkose lid tot die Nasionale Vergadering, mnr. Alpheus Muheua, sy steun aan die Kaaronda-aanslag teen Europeërs toesê nie, maar dit is verbasend dat mnr. Muheua nie intussen agtergekom het dat hy as parlementêre verteenwoordiger deur Namibiërs van verskillende agtergronde in die Swapo-party tot die parlement verkies om die Grondwet te eerbiedig en landswette te maak, maar veral nie deur die groep waaruit hy en mnr. Kaaronda stam nie. As mnre. Kaaronda en Muheua op die steun van hul herkoms moes staatmaak, sou hulle soos die etniese partye uit die groep op die politieke ashoop beland het. Op die beste sou die tweemanskap volgens die verkiesingsuitslae kommunale bestaansboere in die Omhake-streek gewees het eerder as verteenwoordigers van die nasionale werkerskorps. Wat Namibiërs weet, is dat Swapo se frontorganisasies twee stories vertel. Die Jeugliga wil met die land saamwerk en paradeer witmense op elke denkbare byeenkoms en die NUNW se leierskap val dieselfde mense aan op elke denkbare byeenkoms. Wat sê Swapo se leiers? Of het verdeeldheid selfs ’n standpunt gekelder? Hulle hoef nie te antwoord nie. Namibiërs sien dit uit die verdeelde opinies in die hoogste gesag en die aanslag teen hul eie party se president, maar Namibië se Staatshoof. |