|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
31.01.2012 Speel nou oop kaarteDIE kansellasie van die tender vir die bou van die lank beplande Neckartal-dam, moet allerweë verwelkom word. Namibiërs en tenderaars se vertroue in die tenderproses en veral die wyse waarop hierdie spesifieke tender hanteer is, het net te veel vrae onbeantwoord gelaat en opvattings laat posvat dat alles nie volgens die boek gedoen is nie.
Wat ’n mens wel hoop, is dat die kansellasie nie ’n onderduimse manier is om die deur vir die omstrede Italiaanse maatskappy, Impregilo SpA, oop te maak om nou met ’n laer tender vorendag te kom nie. Wanneer die tender vir die Neckartaldam weer geadverteer word, sal dit hopelik ook duideliker uiteensettings gee van hoe die evalueringsproses sal werk en na watter aspekte spesifiek gekyk sal word. Om ’n tender van hierdie aard in te dien, is ’n duur proses wat nie alleen baie tyd in beslag neem nie, maar waarvan die koste tot miljoene dollar kan beloop. Van die ondernemings wat getender het, moes selfs ander projekte opsy skuif om hul volle aandag aan die tender te wy. Namibiërs eis dat die tenderproses hierdie keer heeltemal deursigtig en bo verdenking moet wees en dat geen onduidelikheid oor die rol van die spesiale konsultant van die Ministerie asook die ministeriële tenderraad moet bestaan nie. Met die vorige proses het die permanente sekretaris van Landbou, Water en Bosbou, mnr. Andrew Ndishishi , sy planne so dig gehou dat die opvatting geskep is dat alles nie so deursigtig en bo verdenking is as wat ’n mens dit graag sou wou hê nie. Gelukkig het Minister John Mutorwa, as die politieke aanspreeklike persoon, nou in ’n verklaring onderneem dat hy persoonlik sal toesien dat die proses deursigtig verloop. Groot bedrae geld is op die spel. Die bou van die dam kan vele regstreekse en nie-regstreekse werkgeleenthede vir Namibiërs skep en sal wat infrastruktuur betref, ’n groot bate vir die land wees. Die belangrikheid om van die wegspring af te verseker dat alles korrek en bo verdenking geskied, kan nie oorbeklemtoon word nie. |