Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kollig 21 Augustus

Ongwediva handelskou


Erongo 20 Augustus

Noorderlig 20 Augustus

Motor 15 Augustus

Ons Argiewe

28.07.08

Vrou staan op uit doodsbed

08.08.08

Presidentseun in boeie

22.07.08

Bloed spat by rugby

30.07.08

Aanval ruk Grootfontein

15.08.08

'n Rokkie wou sy dra, maar o wee...

22.07.2008

Skande van visrowers

SEDERT onafhanklikwording 18 jaar gelede het Namibië ’n goeie naam in die wêreldgemeenskap opgebou oor die wyse waarop visserye as ’n ekonomiese steunpilaar bestuur, beheer en gekontroleer word. Groot klem is geplaas op die volhoubare benutting van die land se visbronne – een van die mees produktiewe visvelde in die wêreld.

As deel van hierdie beheer-, bewaring- en beskermingsaksies van die Namibiese regering word streng maatreëls toegepas om jaar na jaar die visbronne volgens wetenskaplike metodes te bestuur. Dit is ’n feit dat die land se visbron in die era voor onafhanklikheid erg geplunder is en verskeie Europese vismaatskappye en booteienaars moes duur betaal vir hul onwettige en ongereguleerde bedrywighede in Namibiese waters.

Dit is daarom uiters teleurstellend en ’n skande dat diepseebote onder die Namibiese vlag twee keer binne een maand in internasionale waters betrap is waar hulle besig was met onwettige vangste. Anders gestel, die plundering van ander lande se visbronne. Aan die begin van vandeesmaand is die vistreiler, die Paloma V van die vismaatskappy Omunkete Fishing, deur die hoërhof in Nieu-Seeland aan die onwettige vang van Patagoniese tandvis skuldig bevind.

Die afgelope naweek het die owerheid van Mosambiek beslag gelê op die Paloma se susterskip, die Antillas Reefer. Afgesien van ’n aansienlike kontantboete wat die eienaars van die skip nou moet betaal, is beslag ook gelê op 43 ton haaivleis, 35 ton ander haaiprodukte soos vinne, sterte, lewer en olie met ’n waarde van sowat N$35 miljoen.

Albei hierdie bote is in die verlede deur die Namibiese regering gekontrakteer om verkennende langlynvisvangtogte van Patagoniese tandvis te onderneem. Die hofsaak in Nieu-Seeland en die beslaglegging die afgelope naweek in Mosambiek verskaf onweerlegbare bewyse dat die Namibiese vlag en plaaslike maatskappye by onwettige visvangste in ander lande doenig is.

Onwettige visvangste het nou reeds die wêreld se visbedryf in ’n krisis gedompel, nie net omdat dit ander lande van hul inkomste ontneem nie, maar ook omdat dit van beskerming en bewaring van die internasionale visbronne ’n klug maak. Op die oomblik word onwettige visvangste of roofvangste se waarde op tussen N$30 miljard en N$70 miljard geskat. Omdat hierdie visrowers geen landswette, grense of internasionale ooreenkomste erken en eerbiedig nie, word waardevolle visbronne soos die Patagoniese tandvis vernietig.

In die proses word groot hoeveelhede waardevolle seelewe en voëls ook benadeel omdat dit as byvangste op die roofbote beland net om later as “vullis” oorboord gegooi te word. Rooi ligte behoort te flikker vir Namibië se owerheid omdat twee bote uit Walvisbaai nou reeds as visrowers uitgewys is. Nog meer kommerwekkend is die feit dat Namibië in September vanjaar die gasheer is van die Internasionale Visserykonferensie op Swakopmund.

Met nagenoeg 200 afgevaardigdes vanuit Afrika, Asië, Europa en elders gaan hierdie konferensie hom spesifiek toespits op beleidsake, die monitering van visbronne en die bewaking van visvelde. Boonop is Namibië ook nog ’n lid van die wêreld se Diepsee Taakgroep saam met lande soos Australië, Kanada, Chili, Nieu-Seeland, Brittanje en Amerika. Hierdie taakgroep se uitsluitlike doel is om onwettige visvangste op die oop see te monitor en hok te slaan.

Wat die Namibiese regering dusver gedoen het om die eienaars van die Paloma V en die Antillas Reefer voor stok te kry en selfs vervolging in te stel, is nie bekend nie, want dusver is daar geswyg oor die aangeleentheid. Namibië sal egter gereed moet staan om te antwoord aan die internasionale liggame waarvan hy deel is, want die land is een van die polisiemanne wat hierdie euwel moet beveg. Wat egter ’n feit is, is dat Namibië vandag sy kop in skaamte moet laat hang voor die res van die visserywêreld weens die optrede van individue of groepe wat hulle aan internasionale misdadigheid skuldig gemaak het.