|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
8.02.2010 Siel van GrondwetDIE Namibiese grondwet is nie die 148 artikels waaruit dit bestaan nie. Dit is ook veel meer as die grondverskuiwende bepalings oor fundamentele regte, die Ombudsman en spesiale beskerming van natuurlike hulpbronne en die omgewing wat die Namibiese grondwet onteenseglik as een van die beste demokratiese riglyne van sy tyd onderskei.
Die Grondwet is eerder ’n toestand van die gees as ’n stel reëls wat gebruik moet word om die regering, landswette of instellings in bedwang te hou. In die verband kan Namibiërs sy grondwetskrywers onder voorsitterskap van dr. Hage Geingob, bewonder vir die uitsonderlike visie, maar veral die kontak wat hulle met die behoeftes van die inwoners van die land gehad het wat uit verskillende gemeenskappe verskillende behoeftes en vrese gehad het wat deur die grondwetlike onderhandelaars en skrywers hanteer moes word. Die Grondwet is ’n lewende dokument wat net lewend kan bly deur dit van tyd tot tyd te ondersoek en daaroor te besin. Dit is die anker van die Namibiese eenheid, geregtigheid en gelykheid wat nie beweeg nie en waarna gereeld teruggekeer word as omstandighede vereis dat ’n nasionale verposing oor kwessies soos nasionale versoening en eenheid nodig is. Die staatkunde van Namibië het die afgelope 20 jaar ten goede verander en selfs as almal nie ewe opgewonde is oor sommige van die staatkundige grondverskuwings nie, het die Grondwet koers gehou en koers aangedui. Dit is nie deur die Grondwet alleen bewerkstelling nie, maar die atmosfeer waarin Namibiërs na die 1989- verkiesings byeengekom het om die Grondwet te skryf wat deurslaggewend was vir die resultaat wat tot uiteindelike onafhanklikheid en vandag se steeds groeiende demokrasie gelei het. In die verband het die Namibiese politieke leierskap van verskeie oortuigings en in verskillende loopgrawe in ’n burgeroorlog, leierskap ter wille van Namibië uitgestal wat moeilik geëwenaar en waarskynlik nooit oortref sal word nie. Namibië is deur sy grondleggers gedien soos nooit tevore in sy geskiedenis nie deur seuns en dogters van hierdie harde aarde tussen woestyne. Dit is nie belangrik wat Namibiërs voor Grondwetdag op 9 Februarie 1990 was nie. Op 9 Februarie het Namibiërs ’n verklaring van voorneme gehad om ter wille van ’n vry en onafhanklike Republiek die waardigheid van hul medemense en die regte van elke individu te erken en dit ter wille van Namibië te bevorder. Hulle het sodoende nie meer onderdane en ondergeskiktes van iemand geword nie, maar ’n gelyke samelewing wat as Namibiërs met ’n eie adres op die planeet hul vlerke na die uithoeke van die wêreld kon sprei. In die verband is die Aanhef van die Grondwet uniek in die sin dat op die bewoording en hoofstuk ooreengekom is nadat die meeste grondwetlike bepalinge en ideale in die 148 atrikels verwoord was voor die Aanhef se bewoording voltooi en daaroor ooreengekom is. Verskeie regte word erken en verskeie ondernemings word deur die inwoners van die land aan mekaar gegee soos onder meer ’n strewe om vrede te bevorder, nasionale eenheid te bewerkstellig asook eenheid en ’n gemeenskaplike lojaliteit aan die staat te hê. En weens die ondernemings en strewes as Namibiërs derhalwe die Grondwet as opperste wet van Namibië te aanvaar. Dit is ’n ontsagwekkende onderskeiding van burgerskap, maar ’n groter verantwoordelikheid. Die Grondwet se grootste prestasie is dat geen mens vandag dieselfde is as wat hy in 1990 met die aanvaarding van die Grondwet was nie. Hulle is nou Namibiërs en elkeen het in ’n mindere of meerdere mate ’n drastiese gesindheidsverandering ondergaan. By verre die meerderheid van gemeenskappe het toegang tot basiese dienste wat vir lank deur ander gemeenskape as vanselfsprekend aanvaar is. Namibiërs is so vry soos die vryheid wat hulle hul medemens eerste gun. Dit is die siel van die Grondwet en die siel waarop die grondwetskrywers ooreengekom het. Die grootste baken waarsonder niks anders, veral nie die Namibië van vandag, moontlik sou wees nie. |