|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
18.01.2012 Regters se beskermingDIE onafhanklikheid van die Namibiese regbank is sedert onafhanklikwording een van die skitterende bakens van die Namibiese demokrasie.
Die waardigheid en onpartydigheid van regters is iets wat elke Namibiër kan respekteer. Natuurlik bestaan kritiek teen lank uitstaande uitsprake in sake en ’n gesloer met die regsproses, maar die onafhanklikheid van die regbank was nog nooit onder verdenking nie. Die kwessie van die uitstaande uitsprake is Maandag met die opening van die howe deur Regter-president Petrus Damaseb op die naam genoem as een rede vir die verwering van vertroue in die regstelsel. Dit is skokkend dat 118 vonnisse verby die sperdatums is wat vir die lewering van uitsprake gestel is en dat van hierdie sake ’n volle tien jaar, sedert 2002, terugdateer. Regter-president Damaseb het erken dat dit ’n probleem is. Die hand is in eie boesem gesteek en daar is selferkenning van tekortkominge. Die aftakelende, beledigende en dreigende uitlatings asook dreigemente van fisiese geweld deur lekelitigeerders teen Namibië se regters is derhalwe ’n ernstige aanklag teen die Namibiese gemeenskap. Dit het daartoe gelei dat regters en hul families nie meer veilig voel nie. Dit is ’n kwade dag wanneer een van die drie pilare van die demokratiese bestel in die land, te wete die regsprekende pilaar, die teiken van sulke optrede word en die polisie of selfs die Aanklaer-generaal tree nie daadwerklik teen die skuldiges op nie. As ’n kultuur van intimidasie en teistering gevestig word waar die gesag van die howe en regters in die besonder sodanig uitgedaag word dat dit tot vrees vir hul eie en hul families se veiligheid lei, moet halt geroep word. Regter-president Damaseb sal sy woord vroeër eerder as later gestand moet doen en optree teenoor diegene wat hulle aan sodanige gedrag skuldig maak. As die polisie en die Aanklaer-generaal egter nie van hulle kant af hierop reageer nie, is daar nog meer rede tot kommer. |