Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kollig 4 September

Motor 29 Augustus

Ongwediva handelskou


Erongo 20 Augustus

Noorderlig 20 Augustus

Ons Argiewe

28.07.08

Vrou staan op uit doodsbed

08.08.08

Presidentseun in boeie

22.07.08

Bloed spat by rugby

30.07.08

Aanval ruk Grootfontein

15.08.08

'n Rokkie wou sy dra, maar o wee...

16.07.2008

Pohamba open deur

DAAR is met die ampsbesoek aan Namibië van me. Ellen Sirleaf-Johnson, president van Liberië, verskeie bilaterale ooreenkomste tussen die twee lande gesluit en dit is belangrik.

Meer belangrik is egter dat die Sirleaf-Johnson-besoek die geleentheid vir die Namibiese Staatshoof, mnr. Hifikepunye Pohamba, geskep het om as Staatshoof en kollektiewe Namibiese gewete die ys te breek oor die koue stilswye wat uit amptelike kringe oor die Zimbabwiese omstredenheid onder bewind van mnr. Robert Mugabe aan die orde van die dag was.

Uit die sitting van die afgelope Nasionale Vergadering was dit duidelik dat die politieke leierskap van die Regering verskeie menings oor die Zimbabwiese krisis het, maar niemand was werklik seker of die onderlinge verskille eg of ‘n verskoning was vir die onderskeie faksies om laer te trek nie.

Om die een of ander onbekende rede is die Mugabe-optrede in Zimbabwe ook in Namibië verpolitiseer asof Namibië nie ‘n onafhanklike land sou wees nie. Mnr. Pohamba het nie net vir die eerste keer in die openbaar kommer oor die toestand in Zimbabwe uitgespreek nie, maar gewys op die handhawing van vrede en stabiliteit op die Afrika-vasteland as grootste prioriteit vir stabiliteit. “Die toestand in Zimbabwe is ‘n saak van kommer.

Nou dat die verkiesings verby is, moet ons die mense van Zimbabwe bystaan sodat die politieke en ekonomiese probleme wat Zimbabwe in die gesig staar, aangespreek kan word,” was mnr. Pohamba se boodskap. Mnr. Pohamba se politieke aanstellings en veronderstelde vertrouelinge moet kennis neem van die wending en kan nie soos die Adjunkminister van Buitelandse Sake, me. Lempy Lucas, maak asof niks in Zimbabwe verkeerd is nie of dat die bloedvergieting, slepende geweld en groeiende voedselnood ‘n sameswering van die een of ander wêreldmag is nie.

Of soos die Swapo Jeugliga wat iewers ‘n gehoor soek wat glo dat ‘n hele bevolking weens ‘n anti- Westerse sentiment uitgeroei en onderdruk kan word. Namibiërs verstaan en weet waarom die ongeleide missiele in die jeug- en vakbondbewegings stroomop teen beskaafdheid swem.

Dit is niks anders as ‘n aansoek om in een van die wetgewende gesagte aangestel te word nie, want dit is ‘n taktiek wat vir Swapo se ander ongeleide politieke missiele gewerk het. Dit was tot onlangs standaard dat die leë blikke aangestel word om deur beheer die skade aan die openbare beeld te verminder.

Die uitdaging is nie mnr. Pohamba se bekentenisse oor Zimbabwe nie, maar of sy kollegas saam ‘n koersaanpassing gaan maak. Me. Sirleaf-Johnson se besoek en haar demokratiese stamboek het vir Namibiërs ‘n keuse op die voorgrond gedwing. Laat ons sien!