21.5.2012
 Argiewe:

Vandag se koerant


Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


21 Mei 2012

SUPERMAAN


30 Bruidspare gekies


Kollig 18 Mei

Suiderland 15 Mei

Die Weer


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

15.03.2010

Onafhanklikheidsfees

DIE finale reëlings vir die 20ste onafhanklikheidsfees is onderweg en Namibiërs kan daaruit leer ten einde die uitdagings na Visie 2030 aan te pak. Twintig jaar gelede was Namibiërs midde die grootste staatkundige onsekerheid op die drumpel van die onafhanklikheidsfees.

Die grondwet was ooreengekom, maar die kwessie van vertroue op mekaar en die toekoms was die grootste onsekerheid denkbaar tussen voormalige politieke opponente. Duisende Namibiërs, insluitend lede van die destydse veiligheidsmagte en staatsdiens, het die land verlaat, die kwessie van Walvisbaai was uitstaande en die landsadministrasie was ver van uitgesorteer.

Namibiërs kan met groot genoegdoening terugkyk oor die spoke van onderlinge wantroue en nasionale onsekerheid wat in die grootste mate ter ruste gelê is. Daar is bitter min gemeenskappe – en selfs in die onmiddellike omgewing nie ’n enkele een – wat onafhanklikheidsvieringe kan reël midde verkiesingshofsake nie.

Om te beweer dat daar spanning is oor die hangende appèl van die oppposisiepartye teen die Verkiesingskommissie, sal verkeerd wees. Daar is verwagtinge van die opposisiepartye en hul ondersteuners van die regspleging en daar is by Swapo wat die wenparty is, ’n merkbare irritasie met die wending wat die verkiesingsuitslae sedert die bekendmaking geneem het.

Dit is politiek en die onsekerheid wat rondom die prosesse aangejaag word, is die simptome van onderlinge onsekerheid en verdeeldheid. Die politiek wat gemaak word, is die politiek wat verwag is deur verskeie politieke partye en die regerende party. Die klimaat waarin dit geskied, is die afgelope twintig jaar deur Namibiërs van verskillende politieke, kulturele, ekonomiese en etniese agtergronde geskep en dit is die atmosfeer wat Namibië deur groter dreigende staatkundige onsekerheid en krisisse gelei het.

Die feite van die saak is dat die verkiesingshofsaak nie ’n hofstryd tussen Swapo en die RDP is nie, maar ’n regsgeding teen die beweerde onvermoë en wanadministrasie van ’n Verkiesingskommissie en -direktoraat met opposisiepartye wat die direktoraat ná die uitslae tot verantwoording roep omdat die ECN voor en met die stemproses met sy kop omlaag voortgestorm het.

In die verband vertrou Namibiërs die regspleging om ingevolge die wette van die land ’n beslissing te fel en dit is ’n uitsonderlike demonstrasie van stabiliteit en onderlinge vrede dat die staatkunde ongeag die prosesse op koers bly.

Dit is genoeg rede dat Namibiërs die 20ste onafhanklikheidsjaar met oorgawe as hul eie prestasie vier en herdenk. Namibië is 20 jaar gelede deur sy inwoners en leiers voorop gestel. Namibië en onafhanklikheid is twintig jaar later steeds die prioriteit ter wille van al sy lede. Die hoogste en laagste.

Die sterkere en die swakste. Om die rede is eenheid in verdeeldheid die eerste uitdaging ter wille van nasionale belang, ook as verposing om die toekomstige uitdagings (en hulle is daar vir almal om te sien) met selfvertroue aan te pak.

Die stemme van faksiebelang en tirannie van minderhede in persoonlike belang is ’n volume, terwyl die stilswyende meerderheid van verenigde en onafhanklike Namibiërs ’n oorverdowende prestasie van 20 jaar se onafhanklikheid is. Lank lewe Namibië.