|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
1.09.2010 Nugter denke nodigVERKIESINGSKOORS is weer aan die opbou vir die komende November-verkiesing vir verteenwoordigers om kiesers op die vlak van plaaslike owerhede en op streekvlak te verteenwoordig.
Politieke partye, organisasies en vakbonde was in die verlede maar almal op een of ander wyse aan die regerende party gekoppel ten einde soveel moontlike steun uit daardie oord te kry. Die afgelope paar jaar het die politieke horison egter begin verander en is daar al meer ’n gees van onafhanklike denke, nie net by politici nie, maar ook by ander rolspelers in openbare organisasies te bespeur. Selfs die eens magtige Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) wat sedert onafhanklikwording amptelik aan die regerende party gekoppel was, se pilare van politieke verbintenis is besig om te begin wankel. Trouens, gemoedere tussen die vakbondfederasie en die regerende party is op die oomblik op ’n mespunt gebalanseer oor die leierskapverkiesing wat die naweek moet plaasvind. Tot in dié laat stadium is daar blykbaar nog nie enige skriftelike nominasieslyste van kandidate vir die belangrike posisies vir die NUNW ontvang nie. Persoonlike struwelinge, faksiepolitiek en opportunisme is heelwaarskynlik die grootste sondaars wat in die pad staan. Wat egter nie uit die oog verloor moet word nie, is die druk van gewone werkers op regeringsinstansies en wetmakers van die land oor die swak prestasies van die instellings op algemene arbeidspraktyke in die land. Met ’n werkloosheidsyfer van meer as 51 persent en die wyse waarop tenders vir bouwerk van die staat aan buitelandse kontrakteurs ten koste van plaaslike konstruksiemaatskappye toegeken word, is dit op die oomblik weer net enkele aspekte wat op die voorgrond gedruk word. Arbeidsonrus vlam kort-kort op, veteraanvegters van die regerende party in die vryheidstryd eis hul pond vleis en die sogenaamde strydkinders bly ’n handvol vir die Regering om te hanteer. Met bogenoemde faktore wat alles bygeroer moet word, kry ’n mens begrip waarom die huidige kwessie om ’n nuwe leierskap vir die NUNW te kies, so ’n netelige kwessie geword het. Daar is Namibiërs en vakbondlede uit die tradisionele Swapo-magsbasisse wat openlik in verset is teen die huidige leierskap en daarvan beskuldig word dat arbeidsaangeleenthede nie hul primêre fokus is nie. Hulle word ook daarvan beskuldig dat hulle eerder op politiek en die staatshuishouding fokus ten koste van die belange van die werkers wat hulle moet verteenwoordig. ’n Mens hoop nou net dat nugterheid en onafhanklike denke die naweek gaan seëvier wanneer vakbondorganisasies byeenkom om hul leierskapposisies te vul. Die wese van hul denke moet nie wees wie die beste lid of die grootste gees van die regerende party is nie, maar eerder wie werkers se belange die beste kan dien en ’n bydrae kan lewer om arbeidsaangeleenthede in die land te kan laat verbeter. Werkloosheid is ’n nasionale kommer en dit behoort voorrang te geniet wanneer vakbondlede oor toekomstige leiers besin. |