Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


7 Februarie 2012

Bruidspaarkompetisie in volle swang


Kollig 2 Februarie

Die Weer


Videonuus


Finse universiteit skenk voertuie

Videonuus


Damara Lewende Museum

Videonuus


Pa in stryd om kindertoesig

Advertensie

Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae


Graad 12 Full time & Part time

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

8.03.2010

Nou vorentoe

NAMIBIËRS kan nou van die hoftrappe wegstap en met nuwe ywer voortgaan om die demokrasie en die grondwetlike instellings van die land te verbeter na die beslissing van Regterpresident Petrus Damaseb om die kiesklagte van die opposisiekoalisie ingevolge die reëls van die hof te skrap.

Hoewel die meriete van die besware van die opposisiepartye teen die afgelope verkiesings nie oorweeg is nie, weet Namibiërs en die owerheid sonder die hofoorweging daarvan dat daar ’n ernstige skroef los in met Namibië se verkiesingsadministrasie.

Die chaos en slepende onduidelikheid oor die verlof en dissiplinêre optrede teen die direkteur, mnr. Moses Ndjarakana, is die bewys dat die direkto- raat nie weet wat sy eie reëls, bevoegdhede en prosedures oor die aangeleentheid is nie, terwyl die Okahandja-kieserslys en uiteindelike verstellings daaraan ’n versterking van die indruk van administratiewe tekortkominge in die kommissie en direktoraat is.

Dit moet reggestel word en die hofuitspraak wat die kwessie van die tafel gevee het, bied die geleentheid om die knelpunte behoorlik te identifiseer sodat die gemeenskap afstand kan kry van die groeiende kultuur wat posvat dat verkiesingsprosesse en uitslae in die howe van die land as ’n geval van prosedure daar kan beland.

Die teleurstelling van die opposisiepartye en hul regspan moet met die grootste simpatie verstaan word, want hulle was – reg of verkeerd – onder die indruk gebring dat hulle binne die reëls van die hof opgetree het. Net so moet die indruk wat Swapo se stormpioniers probeer skep dat die hofbeslissing bewys dat die verkiesings regverdig was, verwerp word vir die opportunisme wat dit is, want daardie aangeleentheid is nie oorweeg nie.

Die verkiesingshofsaak is ongelukkig verpolitiseer en daaraan kan niemand veel doen nie, maar dit was nie ’n hofgeveg tussen Swapo en sy belangrikste opponent, die Rally for Democracy and Progress (RDP) nie.

Dit was ’n inisiatief van opposisiepartye wat sedert die stigting van ’n nuwe party in verskeie tussenverkiesings en ook die afgelope presidents- en algemene verkiesing deur die ECN en direktoraat van verkiesings gefrustreer is en hulle hulle oor registrasie van kiesers en kandidate na die hof moes wend.

Die frustrasie het in een stadium tot die boikot van die Haiyenko-tussenverkiesing gelei. Dit is eenvoudig nie ’n gesonde toestand van die demokrasie nie en die hofuitspraak het hoogstens ’n pleister oor die sweer van slepende administratiewe onbevoegdheid geplak, terwyl ’n veel ernstiger behandeling nodig is.

Die hof het sy beslissing gevel, maar die openbare mening en jurie is steeds uit oor die meriete van die klagtes en dit sal op ’n volwasse wyse deur die land se politieke verteenwoordigers en die nuwe rentmeesters van die demokrasie in die parlement en kabinet hanteer moet word.

Die wenners in die hofprosesse is die inwoners van Namibië ongeag hul politieke affiliasie wat in ’n gees van kalmte en stabiliteit en demokrasie die regspleging vertrou het om met die belangwekkende saak te handel. Hul gedrag ná die uitspraak van die Regterpresident is die kompas van die toekoms en ’n kompliment vir die land en sy leierskap van die afgelope 20 jaar.

Die uitdaging is nou die volgende 20 jaar en Namibiërs het bewys dat hulle groot genoeg is, volwasse genoeg is en demokraties genoeg is om die uitdagings tegemoet te gaan, ongeag teleurstellings aan die een kant en oorwinningsvure aan die ander kant.

Wat leiers van die Regering en opposisie nou kan doen, is om die duidelike foute wat gemaak is te identifiseer en reg te stel om die demokrasie te verstewig sodat die geskiedenis hom nie herhaal nie. Kortom.

Die vertroue wat inwoners demonstreer, behoort gerespekteer te word soos wat die inwoners die instellings van die Staat respekteer, ten spyte daarvan dat hulle soms rede het om sinies oor leiersgedrag en -beloftes te wees. Namibië het Namibiërs nodig net soos die demokrasie slegs deur demokrate in stand gehou en bevorder sal word.