|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
2.02.2012 Moenie die hand byt...DIE besoek van die Duitse direkteur-generaal vir Afrika-sake, amb. Walter Lindner, kom op die regte tyd. Uitstekende betrekkinge tussen Namibië en Duitsland is sedert onafhanklikwording gehandhaaf, maar die afgelope twee jaar is dit erg versuur deur ongelukkige voorvalle en uitlatings wat eerder voorkom moes word. ’n Voorval in 2010 op die lughawe van München waarby die Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, mnr. Kazenambo Kazenambo, betrokke was, het niks daartoe bygedra om die spanning te ontlont wat reeds aan die oplaai was nie.
Verlede jaar met die repatriasie van die skedels van inheemse Namibiërs uit Duitsland, het die Namibiese afvaardiging ook aanstoot geneem oor wat as onsensitiewe optrede van hul Duitse gashere se kant af beskou is. Weer eens was dit Kazenambo wat aan die voorpunt was om kritiek teen Duitsland uit te spreek. Telkens is rassisme by die hare bygesleep en aan die Duitse owerhede toegedig. Dit is jammer. Duitsland was sedert Namibië se onafhanklikwording die enkele, grootste skenkersland wat ontwikkelingshulp aan Namibië betref. Hierbenewens het die Duitse Bundestag kort na Namibië se onafhanklikwording ’n mosie aanvaar waarvolgens die spesiale aard van betrekkinge met die land erken word. Benewens regstreekse ontwikkelingshulp dra Duitsland 20 persent tot die Europese Unie se begroting vir ontwikkelingshulp by. Namibië trek ook ruim voordeel uit hierdie oord. Dié hulp wat die afgelope 21 jaar meer as N$7 miljard beloop het, sluit nie verdere nie-regstreekse hulp deur nie-regeringsinstansies en stigtings in nie. Amb. Lindner het heelwat hooi op sy vurk as hy die vertroebelde betrekkinge wil regstel en wanopvattings wat die afgelope jare posgevat het, uit die weg wil ruim. Onlangs is elders berig oor harde woorde wat geval het tydens ’n welwillendheidsbesoek wat deur die Duitse ambassadeur, Egon Kochanke, aan Pres. Hifikepunye Pohamba gebring is. Dit is hoog tyd dat die emosies opsy geskuif word en helder denke asook wederkerige sensitiwiteit posvat. Een besoek deur ’n hooggeplaaste Duitse diplomaat gaan nie die betrekkinge regstel wat die afgelope jare stelselmatig versuur het nie. |