|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
2.02.2010 Misplaaste aanslaeNAMIBIË se aansien is nie in die hande van politieke partye, hul manifeste of kandidatelyste in verkiesings nie. Gewoonlik is dit in die hande van doodgewone mense wat hul brood in die sweet van hul aanskyn en ten spyte van goeie of swak administrasie moet verdien. Dieselfde geld die beeld en reputasie van leiers en leierskap wat nie net ter wille van hulself nie, maar as simbole en figure van gesag van die ganse samelewing teen misbruik beskerm moet word.
Buitendien is Namibië ’n demokrasie en Namibiërs behoort die uitslae van verkiesings van leiers te aanvaar en nie leiers vir wie hulle self verkies het, uitmekaar te skeur vir persoonlike gewin nie. So verwerplik as wat dit is om gesag te beskinder, so verwerplik is dit om gesag vir persoonlike gewin op te hemel. Mense behoort nie uit hul poste geskinder of misbruik te word nie, maar uitgestem en vervang te word wanneer hulle nie aan die verwagtinge voldoen nie. Dit doen demokrate. Namibiërs hoor nou dat daar magte aan die werk is wat saamsweer om ’n onwettige wapentransaksie voor die deur van die stigterpresident, mnr. Sam Nujoma, te lê. Wat kommerwekkend is, is dat die Ministerie van Inligting en Kommunikasietegnologie die sameswering bekendmaak sonder enige inligting en nog meer gerugte aanjaag as wat gerugte skade kan doen. Dit is eerder onwaardig teenoor die aansien van mnr. Nujoma om gerugte oor hom vooruit te probeer loop en te herhaal as die gerugte self. Dit mag vir die Ministerie as ’n verrassing kom, maar Namibiërs is dit in die grootste mate eens dat die misbruik van die naam van die stigterpresident wat soveel opgeoffer het, nie geduld kan word nie. Namibiërs is dit ook eens dat mnr. Nujoma en ander leiers se aansien ter wille van die nasionale standaard beskerm moet word. Mnr. Nujoma se naam word deur politieke botjotjos in Swapo se eie kringe misbruik en nie deur opposisiepartye en ondersteuners nie. Dit sal selfs absurd wees vir enige leier of verteenwoordiger buite Swapo se leierskring om mnr. Nujoma se naam te probeer misbruik. Dit is ondenkbaar. Dit is ook eenvoudig ondenkbaar dat mnr. Nujoma boodskapdraers sal gebruik om sy wense oor te dra, terwyl hy die afgelope 50 jaar bewys het dat hy mans genoeg is om dit self te doen. Mnr. Nujoma se bitterste vyande kan baie dinge van hom sê, maar een ding is seker, hy sê sy eie sê. Hy is beslis mans genoeg om namens homself te praat en dit is byna ’n belediging om namens mnr. Nujoma te probeer praat. Dit is egter nie net sy naam wat gruwelik misbruik word nie. Die name van die huidige Staatshoof, mnr. Hifikepunye Pohamba, die voormalige premier en nou Minister van Handel en Nywerheid, dr. Hage Geingob, asook die sekretaris-generaal van Swapo, me. Pendukeni Iivula- Ithana, se name sluip ook gereeld in gesprekke in om die indruk van mag of spesiale bevoorregting te skep. Diegene wat dit doen, moet aan die man gebring word ten einde geloofwaardigheid en waardigheid van leiers en uiteindelik Namibiërs in die algemeen te beskerm en te bevorder. Nie die beskinder van leierskap nie, maar respek vir leierskap en gesag moet Namibiërs onderskei. Goeie volgelinge skep goeie leiers en leiers wat beskinder en misbruik word, sal hulle uiteindelik self verwerp. |