|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
30.01.2012 MededingendheidBESKERMINGSMAATREËLS vir ontluikende plaaslike nywerhede is ’n welkome geleentheid vir hierdie bedrywe om op die been te kom en hulself in die mark te vestig. Met hoë koste verbonde aan die vestiging van nuwe nywerhede en die ontwikkeling van nuwe markte, behoort hierdie beskermingsmaatreëls wat vir etlike jare van krag is, plaaslik vervaardigde produkte ’n voorsprong te gee wat hulle andersins nie sou gehad het nie.
Teen die tyd wat die beskermingsmaatreëls opgehef word, is gehoop dat die plaaslike nywerhede op hul eie voete kan staan en plaaslik vervaardigde produkte die nommer een keuse van verbruikers sou wees. Met die opskorting van die Regering se heffing op die invoer van melkprodukte uit die buiteland sedert die begin van die jaar, sit plaaslike produsente met hul hande in hul hare en kla oor die druk waaronder hulle is om teen buitelandse produkte mee te ding. Daar word gekla dat die marges van winsgewendheid onder druk is en die plaaslike suiwelprodukte produsente nou baie kwesbaar is. Wat beteken dit? Dit beteken dat die plaaslike suiwelprodusente in agt jaar wat die invoerheffing van krag was, nie daarin kon slaag om hul as mededingend in die mark te bewys nie en dat plaaslike verbruikers nie plaaslike suiwelprodukte as hul eerste keuse beskou nie. Die agt jaar vakansie van mededinging het nie mark dus nie versterk nie, maar kunsmatig gerusgestel en gesus. As ’n mens in ag neem dat die plaaslike suiwelbedryf boonop uit ’n monopolie bestaan, is dit seker niks minder as reg dat verbruikers ná agt jaar die geleentheid gegun word om wat veral pryse betref ’n groter verskeidenheid produkte te hê om van te kies nie. In moeilike ekonomiese tye is dit veral die prysetiket waarop verbruikers let. Wanneer hulle dus nou die kans kry om goedkoper melkprodukte van mededingende gehalte aan te skaf, behoort dit verwelkom te word. Die Regering behoort ook ernstig te besin oor die wenslikheid van beskermingsmaatreëls deur invoerheffings as dit, soos in die geval van die suiwelbedryf, nie daarin kon slaag om die plaaslike bedryf sodanig te bemagtig dat dit op ’n gelyke voet kan meeding nie. |