17.07.2008
Genoeg van goedertrou
DIE veiligheidskamera wat ‘n speurder van die Namibiese polisie op heterdaad betrap het waar hy as lid van ‘n ondersoekspan N$3 100 in kontant uit die kantoor van ‘n vulstasie steel terwyl hulle met die ondersoek na ‘n vorige gewapende roof besig was, is eerder verdoemende getuienis van wat alles met reg en orde oor die breedste front verkeerd is, as wat dit ‘n skok is.
Daar is dosyne polisiemanne verhoorafwagtend weens verskeie oortredings wat wissel van moord tot openbare dronkenskap en nog ‘n diefstal deur ‘n polisieman kan niemand meer verbaas nie. Wat wel verbasend is, is die polisie se volstruispolitiek rondom sy eie tekortkominge wat neerkom op ‘n nasionale amnestie in uniform.
Wat die veiligheidsvideo onthul, is veel ernstiger en mag daarom nie in isolasie beoordeel word nie. Die ergste vermoedens van Namibiërs is bevestig dat daar meer verdagte kriminele in die polisiemag is as die teen wie opgetree is.
Sewe maande na die bogenoemde voorval die eerste keer deur die slagoffer van ‘n gewapende roof aangemeld is, trek die polisie hul skouers op en is hul eerste linie van verdediging soos in die geval van die Khomas Ripper, ‘n waarskuwing aan onskuldige Namibiese slagoffers om nie met die media te praat nie.
Dit is presies die houding in die mag wat tot wantroue lei en danksy die media word Namibiërs en ook wetsgehoorsame polisiemanne oor die adder in eie boesem gewaarsku. Namibiërs het egter nie verwag dat die adder vir sewe maande gevoer sal word nie en omdat hy met een misdaad weggekom het, is dit is ‘n ope vraag aan hoeveel kleiner diefstalle die betrokke speurder op misdaadtonele skuldig was.
Dit is ‘n tragiese bewuswording dat ‘n slagoffer van ‘n gewapende roof ook die slagoffer van die polisie kan word. Dit is skokkend en onthullend dat die diefstal van die geld in die teenwoordigheid van ander polisiemanne plaasgevind het, maar dit is verstaanbaar.
Polisiemanne is sekerlik nie op ‘n toneel verantwoordelik om te kyk of hul kollegas en makkers hulle dalk ook aan roof skuldig maak nie en hulle behoort dit nie te verwag het nie. Dit is juis die onskuld wat ‘n krimineel misbruik wat in ‘n posisie van gesag is. In hierdie geval moet Namibiërs hul onskuld verloor.
Om anders te redeneer, sou neerkom op ‘n medepligtigheid van die hele ondersoekspan voor die geld uit die kantoor gesteel is, terwyl daar waarskynlik eerder nadat die geld gesteel is, ‘n soort van medepligtigheid in die verdoeseling van die misdaad vir sewe maande is. Namibiërs aanvaar dat die bestuur van die polisie nie hiervan ingelig was nie en dit sou skreiend gewees het om anders te dink.
Wat hulle ook weet, is dat dit ‘n massiewe verdoeseling van ‘n ernstige misdaad in eie geledere is wat ‘n ondersoek en optrede op die hoogste vlak verg. Die ondersoek na die diefstal behoort Namibiërs koud te laat, want die feite spreek vanself.
Die ondersoek en die pligsversuim moet ondersoek word. Op die vlak van die President, mnr. Hifikepunye Pohamba. Die video is beskikbaar as die President daarna wil kyk. Moontlik verloor hy ook sy onskuld en geduld?