|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
31.10.2007 Geagte mnr. Mbeki...GEAGTE mnr. Mbeki, Geluk met die Springbokke se herowering van die Rugbywêreldbeker. Ek kan u verseker dat die ganse Namibië in die eindstryd agter Suid-Afrika as buurman en Afrika-vennoot gestaan het.
Ons is ook gereed om soos ons President, mnr. Hifikepunye Pohamba, reeds by verskeie geleenthede gevra het om soos een man agter Suid-Afrika se aanbieding van die 2010 Wêreldbeker aan te tree – anders as wat u eie doemprofete glo – dat dit ‘n geslaagde toernooi gaan wees waarop die ganse vasteland trots sal wees. Namibië sal as ‘n klein landjie met sy eie beperkte hulp en menslike bronne tot u hulp kom in enige stadium wat u dit nodig het, want die Sokkerwêreldbeker is goed vir Afrika en ons is bevoorreg dat dit op Namibië se voorstoep beslis sal word. Dit is in dieselfde gees dat Namibiërs u kan verseker dat elke inwoner geëerd is om u met legendariese Namibiese gasvryheid hartlik te ontvang. Mnr. Mbeki, u sou tydens u kort besoek die infrastruktuur gesien het waarop Suid-Afrika kan trots wees en wat Namibiërs op probeer voortbou, u moes die nasionale versoening en politieke stabiliteit selfs gevoel het en Namibiërs sal u nie kwalik neem as u en u afvaardiging selfs ‘n bietjie jaloers is op wat u hier in Namibië gesien het nie. Weens ‘n gedeelde staatkundige geskiedenis en bande wat ook in bloed gesmee is, sal u Namibië waarskynlik as u huis ervaar. Namibiërs wat vandag nog diep spore in die land trap, het ook groot bydraes gelewer tot die ontwikkeling van Suid-Afrika op verskeie gebiede, waaronder natuurbewaring, die mynbedryf, landbou, die akademie en selfs die staatkunde en dit is seuns van hierdie aarde wat tot ‘n demokrasie vir die land ooreengekom het. Namibië en Namibiërs soos ons grondleggers, mnre. Sam Nujoma, Hage Geingob, Toivo ya Toivo, wat jare agter tralies op Robbeneiland was, en Dirk Mudge se deursettingsvermoë was die begin van die einde van apartheid wat eers tot onafhanklikheid vir Namibië en die bevryding van Suid-Afrika in 1994 gelei het. Ons is aan die naelstring verbind en dit is ‘n voorreg. Ons Namibiërs is bitter trots op die prestasie en na u ontmoeting met die Vader van die Nasie, mnr. Sam Nujoma, en ons President, mnr. Hifikepunye Pohamba, behoort u vertroue te hê in die politieke volwassenheid wat tot dusver deur Namibië gedemonstreer is. Mnr. Mbeki, Namibiërs het ‘n rekord en geskiedenis van ‘n vredeliewende en waarderende bondgenoot van al sy bure en het in sy geskiedenis nog nooit teen enige van sy bure in Suider-Afrika ‘n enkele daad van vyandskap geopenbaar of aangedui nie. U kan ook op u Namibiese buurman en u voormalige grootmaakkind trots wees. Afgesien van die eer om u as ons gas te ontvang, is Namibiërs geëerd dat ‘n reus van Afrika en ‘n ontluikende wêreldland saam met ons Staatshoof, mnr. Hifikepunye Pohamba, vandag ‘n internasionale beleggerskonferensie as vennote in ontwikkeling geopen het. Daar is in werklikheid min verskil tussen die mense van u land en ons land. Ons deel van die belangrikste inheemse en internasionale tale, ons geldeenheid is gekoppel en die weer is oor groot dele van die twee lande identies. Onlangs het u en mnr. Pohamba saam met u Botswana-ampsgenoot, mnr. Festus Mogae, verskeie nuwe grensposte geopen om verkeer en toerisme-ontwikkeling in die drie lande te vergemaklik. Soos u met u kort besoek sou agterkom, is die verskil tussen Suid-Afrika en Namibië net die Oranje-rivier of die Gariep – soos die mense van u land wat in die omgewing van die rivier woon – liefdevol en met ontsag daarna verwys. Mnr. Mbeki, Namibiërs se volwaardige onafhanklikheid is aan die genade van u en ‘n groothartige Suid-Afrika uitgelewer. Wil u nie oorweeg om opnuut oor die middel van die Oranje-rivier as internasionale grens met Namibië te besin nie? Suid-Afrika is groot genoeg om groothartig teenoor Namibië te wees wat ‘n geskiedenis van vriendskap bewys het en wat in ‘n toekoms van stewiger vriendskap met sy buurlande wil leef. Dink aan Namibië wanneer u later vandag in u tog huiswaarts oor die Oranje-rivier as 'n Suider-Afrika baken vlieg. |