Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Suiderland 07 Oktober

Kollig 2 Oktober

Windhoek skou

Motor 26 September

Noorderlig 23 September

Ons Argiewe

03.10.08

Walglike toestand in rykmansbuurt

02.10.08

Khomas-grote haal rekordboek

02.10.08

Twee gesinne in rou ná fratsongelukke op hul werf

01.10.08

Wittebroodsnag in selle

01.10.08

Harry Simon op sy knieë

21.07.2008

Die tragedie van Zimbabwe

DIE toestand in Zimbabwe is in bykans alle opsigte ’n tragedie wat die substreek en veral sy direkte buurlande soos Namibië in vele opsigte regstreeks raak. Wat die tragedie verder vererger, is die feit dat die despotiese president Robert Mugabe toegelaat word om sy bewind van tirannie te handhaaf sonder teenspraak deur sy vennote, by name Namibië en Suid-Afrika.

Kort nadat Zimbabwe sy minagting en disrespek in Windhoek bewys het deur uit die streektribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap te stap, is in Suid-Afrika opnuut groot ophef gemaak oor “samesprekings vir samesprekings” tussen alle partye om die Zimbabwe-krisis op te los.

Op die oomblik wil dit voorkom asof mnr. Mugabe die versoener en Afrika se leidende demokraat is en dat die Zimbabwiese opposisieleiers eintlik die remskoen is wat ’n oplossing vertraag. Soos verwag kon word, is die “kolonialiste, die imperialiste en die Westerse wêreld” weer geblameer vir dit wat verlede week in Windhoek by die SAOG Tribunaal gebeur het.

In die woorde van die Zimbabwiese ambassadeur in Namibië, me. Chipo Zindoga, het haar land se regspanne nie uit die hofverrigtinge gestap weens disrespek vir die streek se gesagsliggaam nie, maar oor ’n regverdige kans om hul saak in die verhoor te stel. Hierdie uitspraak word egter regstreeks gekoppel aan die “wit boere van Zimbabwe” en hul familie in die buiteland, wat dit durf waag het om haar regering hof toe te sleep oor die grondkrisis in haar land.

Tot vandag nog het niemand in die openbaar standpunt ingeneem oor Zimbabwe se minagting van die Tribunaal nie. Net so swyg Namibië se regering steeds oor dit wat werklik in Zimbabwe aangaan. Die feite is daar vir almal om te sien. Die afgelope naweek het die land sy 100 miljard Zim-dollar banknoot bekend gestel.

Dit in ’n tyd waarin die land se inflasiekoers op ’n geskatte drie miljoen persent staan. ’n Brood is onbekostigbaar vir die gewone man en vrou op straat. Die geweld, aanrandings, marteling en moord op enige persoon wat nie die stroom van Zanu-PF volg nie, duur voort. Alle Zimbabwiërs lewe vandag in ’n gewelddadige outokrasie.

Die land se ekonomie is aan’t skerwe en ’n geskatte vyfmiljoen mense het reeds die land verlaat in een van die grootste uittogte van mense wat Suider-Afrika nog gesien het. Maar steeds word die leierskap van Zimbabwe en veral sy president nie veroordeel of gestraf vir dit wat hy aan sy mense doen nie. Die traagheid van leiers in Afrika om hulle uit te spreek oor wandade teen die mensdom, kan nie langer geduld word nie.

Dit is juis om dié rede dat die uitsprake die naweek in Durban deur die Angolese minister van buitelandse sake, mnr. Joao Bernardo de Miranda, verwelkom moet word. Mnr. De Miranda het by die opening van die SAOG-konferensie van ministers van die Orgaan vir Politiek, Verdediging en Veiligheid gewaarsku dat die samehorigheid en eenheid van die SAOG bedreig word deur die gebeure in Zimbabwe.

Hy het ook gevra dat die eenheid van SAOG ten alle koste verdedig moet word. Hoewel hierdie uitsprake ’n nuwe rigting aanwys wat deur leiers binne die SAOG gevolg word oor Zimbabwe, is dit nog nie voldoende om ’n ommeswaai in die plofbare toestand teweeg te bring nie.

Dit is presies dieselfde benadering wat nou deur die hoof-bemiddelaar, president Thabo Mbeki, gevolg word. Vir hom is “gesprekke oor gesprekke” nou skynbaar belangriker as die lyding, smart en wanhoop van die mense van Zimbabwe.

Die grootste probleem waarmee die streek nou te kampe het, is die bemiddelaar, mnr. Mbeki, en mnr. Mugabe self wat al meer geïsoleerd raak, hul internasionale aansien verloor het en geen gesag kan afdwing nie. En in die proses vererger die lot van alle Zimbabwiërs by die dag.