|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
2.09.2010 Die reg is blindNAMIBIË het ’n trotse tradisie met sy onafhanklike regbank gevestig. Nietemin het die vonnis wat mnr. Lazarus Shaduka dié week deur die Hoërhof opgelê is, hewige reaksie in die land ontlok.
Mnr. Shaduka is skuldig bevind aan strafbare manslag na aanleiding van die sterfte in 2008 van sy vrou, me. Selma Shaimemanya, en hy is ’n boete van N$25 000 of die keuse van een jaar gevangenisstraf opgelê. Vergelykings met die swaar strawwe wat veediewe opgelê word, is onafwendbaar. Tog het Regter Kato van Niekerk dit in haar uitspraak duidelik gestel dat die staat nie voldoende bewyse kon voorlê dat mnr. Shaduka willens en wetens sy vrou vermoor het nie. Die hof kan nie anders as om te oordeel en te straf op grond van die feite en argumente wat die staat en die verdediging aanvoer nie. Die simbool van die reg is nie verniet ’n geblinddoekte vrou met ’n weegskaal in die hand nie. Hoe emosioneel ook al, is geregtigheid veronderstel om blind te wees en om nooit deur enige iets anders as die feite gelei te word nie. Dit is reg dat mense hul demokratiese reg van vryheid van mening en spraak uitoefen en hul ontevredenheid met die straf lug. Die teiken vir die ontevredenheid behoort egter nie die Regter te wees wat die uitspraak gelewer het nie, maar eerder die staat wat nie voldoende bewyse voor die hof kon bring om te bewys dat ’n moord gepleeg is al dan nie. Telkens in die verlede het verdagtes wat van ernstige misdade aangekla is, vry uit die hof gestap omdat die staat misluk het om die hof van hul skuld te oortuig. Skaars ’n maand gelede het die twee beskuldigdes in die Kleine Kuppe-moord waarin drie mense vermoor is, vry uit die hof gestap na die regter hulle van alle klagte kwytgeskeld het. Die regter in dié saak het bevind dat ’n redelike hof wat versigtig moet optree, nie daarin sal slaag om hulle skuldig te bevind nie. Die beskuldigdes het aanvanklik tereggestaan op drie klagte van moord asook die onwettige besit van vuurwapens. Die regter het verduidelik dat mense net skuldig bevind kan word indien hul skuld bo redelike twyfel bewys is en dat in dié spesifieke saak, die staat nie daarin kon slaag om dit te doen nie. Terwyl regsverteenwoordigers vir die verdediging verplig is om alles in hul vermoë te doen om hul kliënte te verdedig, behoort van die staat se kant af seer sekerlik dieselfde dringendheid te wees om hul sake te bewys. Staatsaanklaers maak egter staat op bewyse en inligting wat deur die polisie aan hulle verskaf word. In die verlede het swak polisiewerk en nalatigheid met die aanvanklike ondersoek van ’n misdaad ook die skuld gekry vir verskeie sake waar die beskuldigdes se skuld nie bo redelike twyfel bewys kon word nie. In ’n land waar vroue en kinders te dikwels die slagoffers van geweld is, waar die groot aantal aanrandings, verkragtings en moorde teen hierdie weerlose groep ’n klad op Namibië se moraliteit is, behoort alles moontlik gedoen te doen om geen skuiwergate te laat nie. Van die eerste polisieman op die toneel tot die speurder wat die saak moet ondersoek, tot die staatsaanklaer wat in die hof redes moet aanvoer vir ’n skuldigbevinding, het ’n ieder en ’n elk ’n plig om die beste moontlike werk te doen. Dit is die enigste manier waarop verseker kan word dat reg en geregtigheid geskied. |