|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
2.03.2010 Die laaste grensoorhandiging van Walvisbaai in 1994 aan Namibië het stil-stil gekom en gegaan, maar dit was een van die belangrike hoogtepunte van Namibiese onafhanklikheid en die standaard wat die jong Republiek in die wêreld gestel het.
’n Veel jonger mnr. Nangolo Mbumba, Namibië se Minister van Onderwys, was instrumenteel in die uiteindelike sukses van die onderhandeling en met ’n terugblik moet Namibiërs glo dat die noodlot moes beskik het dat mnr. Mbumba met sy gelykmatige temperament en algemene beeld van kalmte en ordentlikheid Namibië se vlag gedra het. Vandag is dit algemene kennis dat hy en die Suid-Afrikaanse veteraandiplomaat, mnr. Carl von Hirschberg, ook ’n goeie verhouding gegrond op wedersydse respek gebou het en die res is geskiedenis. Dit is vandag byna ondenkbaar dat die moontlikheid bestaan het dat Suid-Afrika Walvisbaai nie aan ’n onafhanklike Namibië sou teruggee nie. Die feit is dat Suid-Afrika beloftes aan sy eie blanke kiesers en inwoners van Walvisbaai gemaak het dat die enklawe weens ’n strategiese belang altyd Suid-Afrikaanse eiendom sou bly. Dit het gelukkig nie gebeur nie en Namibiërs onthou nog hoe padblokkades net buite Swakopmund die skyn van Suid-Afrikaanse beheer kort na onafhanklikheid probeer bewaar het en hoe politieke gifstrooiers opruiend rondom die besetting van Walvisbaai tekere gegaan het. Onlangs het Suid-Afrika, Namibië en verskillende ander SADC-lande ’n uiters geslaagde gesamentlike militêre oefening op en rondom Walvisbaai gehou en as dit nie was vir die mediaberiggewing nie, sou niemand dit agtergekom het nie. Walvisbaai is vandag ’n Namibiese sieraad en vertoonvenster van goeie streekbetrekkinge met buurlande wat eiendom as droë hawens het. Die Walvisbaaise hawe is verskeie kere opgradeer en word vir sy dienslewering en geriewe hoog aangeslaan. Verskeie streekinisiatiewe word onderneem om deur die ontwikkeling van pad- en spoorinfrastruktuur in Suider-Afrika ’n ekonomiese groeipunt en geleenthede ’n hupstoot te gee. Met die ontploffing van die mynbedryf het Namibië en Walvisbaai ’n belangrike toekomsbaken vir ontwikkeling geword. Die grootste erflating is egter Namibiërs se onderhandelingsvermoë onder leiding van mnr. Mbumba wat internasionaal respek afgedwing het. Dit sal egter goed wees om deur die vieringe van die Walvisbaai-oorhandiging hernieude pogings van stapel te stuur om met Suid-Afrika ’n ooreenkoms oor die Oranjeriviergrens te bereik. Dit is ’n onnodige uitstaande kwessie met beide lande wat nuwe staatshoofde het en alle rede het om in die gees van die destydse Walvisbaai-onderhandelinge oor die middel van die Oranjerivier as grens ooreen te kom. Dan is Namibië in sy geheel geografies onafhanklik soos wat die inwoners van die land in 1990 deur hul verteenwoordigers in die Grondwetskrywende Vergadering bedoel het. |