|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
3.03.2010 Die demokrasie wérkDIE stand van die demokrasie word nie net bepaal deur die hou van gereelde verkiesings, die uitslae daarvan of die aantal politieke partye wat in ’n land bedrywig is nie.
Daar is verskeie ander tekens van ’n gesonde demokrasie waarvoor veel meer waardering moet bestaan ten einde denkbeeldige vrese hok te slaan wat sovele kere al bewys is ’n meulsteen om die nekke van ontwikkeling en vooruitgang kan wees sonder dat mense dit besef. Wat is vanoggend die werklikheid van die Namibiese demokrasie? Om ’n gesonder demokrasie in werking te sien, sal die uithoeke van die aarde ondersoek moet word. Die werklikheid is dat ’n vreemdeling uit Jerusalem nie sal kan aflei dat in Namibië ’n bittere hofstryd oor die hou en uitslae van die afgelope Presidents- en parlementêre verkiesings aan die gang is nie. Hoewel die verkiesingsaak en -debatte in sy verskillende prosesse sedert Desember gevoer is, is die staatshuishouding op alle vlakke genormaliseer en kon Namibiërs steeds – ten spyte van onsekerheid oor die bevoegdheid van die Verkiesingskommissie en -direktoraat – ’n uiters suksesvolle en vreedsame verkiesing vir die Okahandja-vakature op die Otjozondjupa- streekraad hou. Dit is nie net die gees van demokrasie wat gesond en sterk is nie, maar ook die aansien van Namibië se regspleging wat onskatbaar bydra tot die gees van afwagting en inwonersvolwassenheid wat oor die aangeleentheid sigbaar is. Voeg daarby die voortydige openbare debatvoering oor die opvolgingskwessie en Namibiërs kan met die grootste selfvertroue op 21 Maart twee dekades van onafhanklikheid en demokrasie vier. Die feite waaroor geen hof verder hoef te besluit nie, is dat Namibiërs se demokratiese vryheid en geregtigheid onder die hoogste howe gewaarborg is. Dat die natuurlike regte van die inwoners nie net gewaarborg is nie, maar getoets kan word en dat die prosesse van demokrasie gereeld aan openbare sensuur en reëls onderwerp sal word. Die belangrikste is dat die Grondwetskrywers en opeenvolgende regerings die meganismes daargestel het waardeur die inwoners van die land hul verteenwoordigers aan die toetse kan onderwerp wat in die Grondwet ingebou is om instellings van die staat se optredes en magte te toets. Die uitdaging is om dieselfde gees onder die verskeie verteenwoordigings en verskillende staatshuishoudings in nasionale belang vir vooruitgang en ontwikkeling te verenig. Daar behoort bitter min in die pad van ’n gemeenskap se vooruitgang te staan wat in loopgrawe verdeel was, maar oornag in ’n nasie onder ’n vlag en grondwet deur seuns en dogters van die land die eenwordingsproses aan die gang gesit het wat vandag die Namibië genoem is wat die naam demokrasie in net 20 jaar verdien het. Die kosbaarste nasionale bate. |