|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
7.02.2012 Bravade kos land miljoeneDIE huidige onwettige staking van TransNamib se werknemers laat opnuut die kollig val op ’n ongesonde tendens wat die afgelope aantal jare in Namibië posgevat het. Stakende werknemers wat hulle nie aan ’n hofbevel steur nie.
Namibië se arbeidswet is uiters liberaal en baie werkgewers kla dat dit na die kant van werkers se regte ten koste van die regte van die werkgewer, oorhel. Dit is ook goed en reg dat die regte van werkers deur wetgewing beskerm word en hulle die reg het om hul arbeid as werktuig in onderhandelinge te weerhou. Wanneer werknemers werklik alle moontlike onderhandelingsweë met hul werkgewers gevolg het en van werkgewers se kant tot nadeel en uitbuiting van die werkersmag opgetree word, bly die pad van kollektiewe optrede deur middel van stakings, ’n wettige uitweg. Wanneer werkers en vakbonde egter nie die korrekte prosedures volg nie en die reg om te staak in eie hande neem, raak dit ’n onding wat, soos nou die geval is, nie net die onderneming waarvoor hulle werk nie, maar ook hul land ekonomiese skade berokken. In die geval van TransNamib skyn dit dat selfs die Namibiese Unie vir Vervoer en Verwante Werkers (NA - TAU) beheer oor sy lede verloor het, wat nie gehoor wil gee aan die hofbevel ingevolge waarvan die staking van die afgelope naweek onwettig verklaar is nie. Dit is noodsaaklik dat vakbonde en hul lede hulle deeglik vergewis van die letter en die gees van die Arbeidswet en dit nakom. Onwettige stakings en optrede soos die verontagsaming van ’n hofbevel, stel die arbeidsmag in sy geheel in ’n swak lig. Daar is na dese min simpatie met die stakers en hul eise. Prosedures is neergelê wat wettige stakings se plek in kollektiewe bedinging verseker. Namibië het buitelandse beleggers bitter nodig. Om hierdie rede het die Regering uit sy pad gegaan om aansporingsmaatreëls in te stel om hierdie beleggers te lok. Namibië vaar reeds nie goed in internasionale studies oor produktiwiteit en mededingendheid nie en dit skrik buitelandse beleggers af. Onwettige stakings is egter die laaste druppel om die emmer te laat oorloop en wat voornemende beleggers twee keer laat dink voor hulle in Namibië sal belê. |