Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Bruidspaarkompetisie in volle swang


Sien fotos hier

Kollig 2 Februarie

Die Weer


Videonuus


Finse universiteit skenk voertuie

Videonuus


Die onkruid waai op Nkurenkuru

Videonuus


Landskapkuns

Advertensie

Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae


Graad 12 Full time & Part time

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

25.02.2010

Beheer en dissipline

DIT moet vir elke Namibiër duidelik wees dat die vlaag veediefstalle wat veral beeskuddes in die sentrale en noordelike dele van Namibië teister, die werk van ’n gesofistikeerde sindikaat is. Twintig plase in die Otjozondjupa-streek is reeds weens ’n uitgebreide polisieondersoek deur die direktoraat van Veeartsenydienste gesluit.

Dit kan egter net die punt van die laken wees, want die fondasie van vleisproduksie is diep in die gemeenskap, boerderybedryf en landsekonomie geanker. Midde die ondersoek is dit duidelik dat ernstige leemtes in die monitorprosesse ontdek is en misbruik is of steeds misbruik word. Dit is ewe duidelik dat die kwessie van beheermaatreëls as tussentydse maatreël sover as wat dit moontlik is, versterk moet word.

Dit sal kortsigtig en selfs naïef wees om te glo dat die beesdiefstal-sindikaat hoofsaaklik in die noordelike en sentrale gedeeltes van Namibië se Otjozondjupastreek bedrywig is. Seer sekerlik sal ook dele van die Omaheke-streek wat die eretitel van Namibië se beesparadys dra, nie onaangeraak wees nie.

Dele van die Kunene-, Erongo- en Hardap-streek word ook deur beesdiewe geteister en nie lank gelede nie was honderde beeste in die Khorixas-omgewing gesteelde eiendom onder bewaking, maar die ondersoek het weens die omvang daarvan teen ’n muur tot stilstand gekom.

In die Omusati-omgewing kla kleinboere oor veediefstal met beeste wat enorme en astronomiese pryse in die Angolese mark haal. In Kavango hang daar vir jare ’n skaduwee oor beestroppe wat as Unita-oorlogsbuit hul weg glo na Namibië gevind het en ’n politieke tydbom is wat op alle fronte tik.

Dit is om verstaanbare redes nie moontlik om beesdiefstal in Namibië uit te skakel nie, maar dit word moeiliker wanneer howe en aanklaers nie hul plig nakom nie en gewoontemisdadigers net ’n draai in die tronkselle gooi om weer in die gemeenskap losgelaat te word.

Dit raak byna onmoontlik wanneer lede van die weermag soos onlangs naby Windhoek, by beesdiefstal betrokke raak en letterlik dosyne beeste as stukkies in die sypaadjiehandel beland.

In gevalle is daar vermoedens dat meesterbreine deur polisiemanne op die hoogte van ondersoeke gehou word en hulle op hierdie wyse ’n voordeel bo hardwerkende ondersoekbeamptes het wat reeds hul hande vol het met dosyne sake van ’n enkele bees wat op plase aangrensend nasionale en distrikspaaie of munisipale grond gesteel word.

Die polisie moet in die eerste plek alle hulp moontlik van die owerhede en die gemeenskappe hê om die boewery ten minste te beperk en op die beste hok te slaan.

Boere bestee reeds derduisende dollar ter beskerming van hul plase en omgewings en verskeie kleiner gemeenskappe het patrollies en ander veiligheidsmasjinerie om hul eiendom te beskerm en dit kos geld.

Namibië se lang afstande en yl verspreide bevolking bemoeilik die bekamping van veediefstal, maar terselfdertyd bied dit rewolusionêre geleenthede vir veral die monitor van beeste en hul beweging. Daar bestaan tegnologie wat beeste en voertuie elektronies monitor en die tegnologie word nie net daagliks ontwikkel nie, maar word ook met ontwikkeling goedkoper en meer doeltreffend.

In die verband sal dit weens die waarde van vee vir die Namibiese ekonomie, vooruitgang en gehalte van vleis, die moeite en geld loon om ’n deurtastende ondersoek en korttermyn finansieringshulp aan te wend om ondersoek na die beste oplossing in die verband in te stel.

Dit kan nie meer geld kos as die mannekrag en geld wat nou aan ’n gesofistikeerde misdaadnet bestee word met geen werklike versekering van sukses en ’n volhoubare oplossing vir die vraagstuk wat ten spyte van die beste bedoelings van die wetstoepassers en die regspleging, nie die gewenste uitwerking het nie en eerder vir kreatiewe gierigheid op alle vlakke van die staathuishouding ’n uitdaging is.

Die sindikaat wat homself weens ’n kombinasie van vindingrykheid weens gierigheid en onskuld van armoede verryk, se tentakels is wyd en daarom sal na ’n wye, nasionale benadering met alle rolspelers gesoek moet word om die sluimerende monster in die gemeenskap uit te roei.

Beheer, dissipline en toewyding moet die nasionale wagwoord wees.