|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
9.03.2010 Aanvaar uitdagingDIE Minister van Handel en Nywerheid, dr. Hage Geingob, wat ook die stigterpremier van Namibië 20 jaar gelede was, sal deur die geskiedenis met groot welwillendheid onthou word vir sy baanbrekersrol as voorsitter van die Grondwetskrywende Vergadering.
Dr. Geingob is nie net uniek gekwalifiseerd nie, maar het veral die politieke en staatkundige stamboek om as deel van die land se 20ste onafhanklikheidsvieringe die kompas in ‘n gedenklesing oor die afgelope 20 jaar en die komende 20 jaar na Visie 2030 vir Namibië te stel. Hy was instrumenteel in die hervorming van die staatsdiens en het internasionale erkenning vir die uiters moeilike en delikate stappe kort na onafhanklikwording ontvang. Die kwessie van openbare dienslewering is een van die rou senuwees van die staatshuishouding waarvan nie weggeskram kan word nie en ten spyte van die beste bedoelinge in die verband, is daar steeds voorbeelde waar die teenoorgestelde gebeur. Dit is daarom gerustellend om te weet dat die President, mnr. Hifikepunye Pohamba, die huidige Premier en verskeie lede van die kabinet die kwessie van openbare dienslewering op alle vlakke probeer aanspreek. Dit is vir meeste Namibiërs dat die tekortkominge nie weens die gebrek aan politieke wil of nasionale behoefte bestaan nie, maar eerder weens ’n probleem op tussen- en laer vlakke van die staatsbestuur waar gefaal word. Die kwessie van swak openbare dienslewering is beslis nie net tot die staatsdiens beperk nie, maar sny diep in die aansien van instellings van die staat asook die private sektor waar Namibiërs byna daagliks gekonfronteer word met ’n vat-dit-of-los-dit-houding. Die probleem van byna alle vlakke van dienslewering is die verpolitisering van die daaglikse lewe waaraan inwoners oor ’n lang tyd uitgelewer is en ook die mat word waaronder foute, gebreke en vergrype gevee word. Wanneer kritiek nie meer as goeie raad aanvaar word nie, maar as politieke agendas verdag gemaak word deur diegene wat op die laagste vlakke aan die inwoners verteenwoordig is, is dit die aanjaer van nasionale frustrasie wat tot onredelike veralgemening lei. Dit is die atmosfeer waarin faksiebelang groei en dit skep onbetrokkenheid en ’n afsydigheid wat belangrike samewerking van die burgerlike samelewing ondermyn om die kleiner probleme van die staatshuishouding volhoubaar in nasionale belang op te los. Net soos wat dr. Geingob die Regering en sy instellings vermaan om deursigtig en met verantwoordelikheid op te tree en die ganse Namibië daarby in te sluit, so kan van die inwoners verwag word om met die instellings van die staat saam te werk om die atmosfeer van beter dienslewering en deursigtigheid te skep. Namibië met sy beperkte menslike en natuurlike hulpbronne kan nie eilande van belange en prioriteite bekostig nie en moet eenvoudig hul hande na mekaar probeer uitsteek en mekaar help oor die afgronde wat by tye deur faksie- of ander verdeelde belange oor die staatshuishouding geskep word. Namibië is ver van perfek, maar is by verre beter as die tweede beste waaraan enige inwoner kan dink. Dit raak toenemend belangrik dat Namibië nie net sy seëninge tel nie, maar sy talente op verskeie gebiede ontwikkel ten einde van die knellendste vraagstukke volhoubaar aan te spreek. In die verband is die selfondersoek van die owerheid die een kant van die verhaal, die gereelde ondersoek van leiersoptrede en uitsprake ’n ander kant, terwyl die derde kant die private sektor en burgerlike samelewing is. Die volle verhaal is dat Namibië ten spyte van kleiner tekortkominge ’n skitterende 20 jaar van vreedsame en stabiele onafhanklikheid kan vier, maar die grootste viering sal eerder die wyse wees waarop die volgende 20 jaar uitgedaag moet word. Vir ’n beter Namibië. In die verband is dr. Geingob se goeie raad dat Namibië nie perfek is nie, maar dit genoeg rede vir inwoners en instellings is om hulself en die nasionale doelwitte gereeld te ondersoek en aan te pas, ’n wekroep. Namibiërs se hulp moet van hulself kom. |